Krieket-kapteins. Schools That Rock gesels oor die volgende aantal weke met verskeie skole in Suid-Afrika se 1ste span krieket-kapteins. Ons vierde bal word geboul aan GJ Maree, kaptein van Grey Kollege se 1ste krieketspan.
“Ek het ‘n krieketkolf vasgehou voor ek kon loop, maar het my eerste wedstryd gespeel toe ek ses jaar oud was. My pa is ‘n krieket-afrigter, so van kleins af het ek baie met die sport te doen gehad en sommer dadelik verlief geraak.
Ek was die eerste keer as krieket-kaptein gekies op die ouderdom van sewe jaar. Dit was vir ‘n superliga-span. Ek sien my verantwoordelikheid as kaptein om seker te maak die spelers is tevrede en dat dit ‘n goeie omgewing vir die span is.
Ons 1ste krieketspan van Grey oefen gemiddeld so vier keer per week.
Eerste wedstryd
Toe ek my eerste wedstryd gespeel het, was dit die lekkerste gevoel ooit! Dit was sommer propvol verskillende emosies – dis wat dit so ‘n unieke sportsoort maak. As ek moet sê oor watter bekwaamhede ‘n goeie krieketspeler moet beskik, is dit dat hy moet weet hoe om die druk te hanteer en om nog steeds kalm te bly, maak nie saak wat die situasie is nie. Die sleutel tot sukses is dat jy nooit moet ophou veg of fokus verloor nie. Die wedstryd kan vinnig draai na enige kant toe.
Wat my inspireer elke keer wanneer ek op die veld stap vir ‘n wedstryd, is dat ek my talente kan uitleef wat vir my gegee is. Ek het twee kriekethelde: AB de Villiers en Ricky Ponting. Ek verkies dit om te kolf bo die geleentheid om te boul.
Die lekkerste wedstryd wat ek tot dusver in my krieketloopbaan gespeel het, was ‘n wedstryd in 2018 wat ons teen Pretoria Boys High gespeel het. Ons het eerste gekolf en toe haal hulle ons uit vir min lopies. Ons span het teruggekom en hulle uitgeboul vir 90 lopies. Dit was vir my so lekker, want die manne het regtig hard gewerk en in die wedstryd gebly om op die einde dit deur te trek. Vir verskeie redes onthou ek my kolfbeurt teen Hoërskool Waterkloof van Pretoria in die semi-finaal van die Noord-Suid toernooi verlede jaar. Dit sal my altyd bybly. Ek het 70 lopies aangeteken en ons kon toe na daai wedstryd met ‘n wen wegstap!
Drukhantering
Hoe hanteer ek, as krieket-kaptein, druk op en van die veld? Dink aan jou plan en moet nie aan die opponente dink nie. Doen wat jy kan doen om die druk te verminder. Indien ek raad mag gee aan beginners, sal ek sê: werk hard en moet nooit opgee nie.
Wanneer ek ‘n moeilike wedstryd agter die rug het, neem ek my toevlug tot my pa. Hy help my baie deur die moeilike tye.
Die “nar” in ons huidige span is Foster Lubbe. Hy is ‘n snaakse ou. Hy kan regtig almal laat lag en dit is fantasties om hom in die span te hê. Ons “pre-match” ritueel is maar ‘n gesprek met mekaar en om seker te maak almal is reg vir die wedstryd. Ons bid ook voordat ons op die veld gaan.
Ek kyk ook gereeld na wedstryde op die televisie. Ek is lief vir die sport, veral toetskrieket!
In my vrye tyd vang ek vis en ek jag ook graag. Dit is vir my baie lekker.
As ek myself in een woord moet beskryf, is dit hardwerkend.”
Foto verskaf
Meer skolenuus: https://schoolsthatrock.co.za