Oor minder as ‘n maand vertrek die nuwe Roeselare-groep van 12 leerders en twee onderwysers vir die jaarlikse uitreik na die stad Roeselare in België. Die groep klim die 24ste September op die vliegtuig en vlieg dan via Dubai na Londen waar hul tot en met die 29ste September gaan vertoef om ‘n bietjie span te bou. Ons gaan onder andere toeristebesienswaardighede soos Madame Tussaud, die Londen Eye, die Sky Garden en Camden Town besoek om maar net ‘n paar te noem.
Van Londen af vertrek die Roeselare-groep per trein onder deur die Engelse kanaal na Lille in Frankryk waar hul Belgiese vriende hul met groot opwinding gaan inwag om per motor na die stad Roeselare te neem.
Roeselare gaan die groep se “tuiste” wees tot en met die 15de Oktober. Die leerders gaan tydens hul kuier daar bekende stede soos Gent, Ieper, Poperinge, Brugge en Brussels besoek. Tydens hul besoek gaan die Arende ook vir ‘n naweek in Parys deurbring en besienswaardighede soos die Eiffeltoring, die Louvre en Notre Damme sien. Die groep is ook bevoorreg om Euro Disney te besoek en ‘n hele dag van pret en plesier in die park te hê. Die aand in die park word deur ‘n laservertoning afgesluit wat die leerders gaan bekoor en asems laat wegslaan.
‘n Definitiewe hoogtepunt is as die groep die stad Ieper besoek en deur die duisende grafte van die Eerste Wêreldoorlog stap om net te besef watter groot invloed die oorlog tot vandag toe nog op België en omringende stede gehad het. Die Arend gaan ook tydens die “last post” seremonie ‘n kranslegging bywoon waarvan sekere van die leerders betrokke gaan wees. Die seremonie gee gewoonlik hoendervleis waartydens ‘n beuel geblaas word om eer te betoon aan die soldate wat tydens die oorlog gesneuwel het en aan dié wat nooit gevind is nie.
Die leerders se besoek aan Roeselare word op die laaste aand afgesluit met ‘n ete en dans waartydens hul afskeid neem van hul nuwe vriende en lekker saam eet, lag, gesels en dans.
Sondag, 15 Oktober, vertrek die groep per trein na Brussels en dan word daar swaar afskeid geneem van hul nuwe vriende; dit is gewoonlik ‘n vinnige tot weersiens om die hartseer minder te maak. Gelukkig sien die groepe mekaar darem weer in Februarie 2018 wanneer dit die Belgiese vriende se beurt is om Suid-Afrika te kom besoek.
Roeselare is ‘n ongelooflike ervaring. Die Arende verander van onseker reisigers na selfversekerde wêreldbugers wat ‘n ander siening van hulself en die wêreld waarin hul leef, kry.
“Ons ontmoet as vreemdelinge en gaan as vriende uitmekaar”, het die onderwysers wat die groep vergesel, gesê. Die twee onderwysers wat die groep gaan vergesel is mev. Lynette Wolff en mnr. Tobie Basson.
Name van leerders op die foto:
Agter :Tobie Basson, Samuel Gibson, Elsefie Fouché, Michaela Holz, Elbé Fouché, Karla Prins, Caitlin Anderson, mnr.Danie Malan
Voor: Lynette Wolff, Kristin Meyer, Carli Serdyn, Karine Meyer, Zoé-lee Van Der Merwe, Mia Faasen, Christine Meyer