Skoolkaptein 2024. In ons reeks oor Hoofseun 2024, gesels Schools That Rock vandag ook met die Skoolkaptein van Grey Kollege in Bloemfontein, Pieter van der Merwe.
Pieter, vertel ons meer van jouself en jou leierskap. Wat is jou leierskap ervaring?
- Ek ervaar die geleentheid baie positief. Elke dag het sy eie uitdagings en ek leer daagliks van myself, my mede-skoliere en die skoolomgewing. My leierskapstyl is om te dien en die behoeftes van diegene wat my in dié posisie geplaas het op die hart te dra. Ek luister voor ek praat.
Wat is jou belangrikste waardes as leier?
- My vermoë om weldeurdagte besluite te neem. Ek kan my humeur in toom hou en ek het baie geduld.
Vertel ons meer van jou persoonlike doelwitte vir jou leierskapjaar? En vir Grey Kollege?
- As Skoolkaptein 2024 wil ek ‘n rolmodel wees vir die jonger grade en die skool in ‘n beter plek laat as hoe ek dit gekry het. Ek wil die samehorigheid in die skool nog hegter maak.
Wat is jou sterkste leierseienskap?
- Eerlik, stap nie draaie nie en ek streef na oplossings eerder as konflik.
Hoe kry jy samewerking (commitment) van jou span?
- Ek het reeds hulle respek gewen, so dis maklik om samewerking te bewerkstellig d.m.v. goeie kommunikasie.
Pieter, as jy enige honde-ras kon wees, watter ras sou jy wees? Hoekom?
- ‘n Golden Retriever. My persoonlikheid is soos hulle s’n – rustig en lief vir mense. En ek het so ‘n hond.
Hoe sal jy jou span lei deur verandering?
- Ek sal eerstens hulle opinies inwin en dan sal ons saam besluit oor die verandering wat moet plaasvind.
Wat staan die meeste vir jou uit by Grey Kollege?
- Broederskap – die seuns se vermoë om na mekaar om te sien. Dis ook ‘n ondersteuningsnetwerk wat ‘n leeftyd na skool strek.
Wie is die persoon na wie jy opsien? Hoekom?
- My pa. Die manier hoe hy dinge hanteer en hoe hy ons grootgemaak het, dra grootliks by tot die persoon wie ek vandag is.
Wat was die hoogtepunt van jou skoollopbaan tot dusver? Hoekom?
- Die laaste wedstryd teen Paul Roos Gimnasium van die 2023-rugbyseisoen. Om te ervaar hoe baie die oorwinning vir huidige en oud-Greys beteken het en om deel te kon wees van daardie hartroerende emosie.
Waaroor dagdroom jy?
- Wel, my meisie!
Hoe sal jy Graad 7-leerders oorreed om Grey Kollege te oorweeg vanaf Graad 8?
- Maklik. Ek praat eenvoudig die waarheid – vertel wat hier aangaan en die koeël is gewoonlik dan deur die kerk.
In watter rigting wil jy studeer na skool? By watter Universiteit?
- Meganiese ingenieurswese of argitektuur. Hang af van faktore soos my sport waar ek gaan studeer.
Hoe sal jou vriende jou beskryf?
- Betroubaar, kalm, oopkop en gegrond (ek staan by my waardes).
Meer skolenuus: https://schoolsthatrock.co.za
https://greycollegesecondary.com/
Foto verskaf