Hoofdogter 2024. In ons reeks oor Hoofdogter 2024, gesels Schools That Rock met die Hoofdogter van Hoërskool DF Malan in Kaapstad, Emma Geringer.
Emma, vertel ons meer van jouself en jou leierskap. Wat is jou leierskap-ervaring?
Ek sien leierskap as ‘n roeping om diensbaar te wees. Dit is ook om op te staan vir die stilstemmes en om die skoolgemeenskap ‘n beter plek te maak vir elke individu. My pad na Hoofmeisie van die Hoërskool DF Malan was ‘n reis van selfontdekking gewees. In my laerskooljare was ek eers teruggetrokke. Met die ontdekking van my passie vir drama in graad 5, het ek nie net ‘n talent gevind nie, maar ook selfvertroue en ‘n sterk stem. Hierdie ontdekking het my gelei om my leierskapspotensiaal te ontwikkel deur elke geleentheid in die hoërskool aan te gryp.
RVL
Drie jaar op die RVL het my toegelaat om my graad op ‘n aktiewe manier te verteenwoordig. Ek het ‘n diep verbintenis met die skoolgemeenskap gevorm. As deel van ‘n span van leiers sien ek elke lid as ‘n unieke kaart in ‘n kaartspel. Net soos in ‘n kaartspel is vaardighede, samewerking, en doelgerigtheid die sleutel tot gesamentlike sukses. Ons almal is ‘n ander hand uitgedeel. Ons almal het ons sterk- en swakpunte. My definitiewe sterkpunt is my vermoë om met mense te werk. AS jy my egter op ‘n netbalbaan sit, is ek die swakste speler, net soos ‘n aas in die verkeerde kaartspel.
Dit herinner ons daaraan dat almal iets uniek tot die tafel bring in ‘n span. Selfs die swakste kaart in ‘n kaartspel het ‘n belangrike rol om te speel in die uiteindelike wen van die spel. My leierskapservaring word gekenmerk deur die gebruik van my sterkpunte. Dit is veral my vermoë om effektief met mense te kommunikeer. Ek glo in ‘n inklusiewe benadering waar elke stem gehoor word
As Hoofdogter 2024, wat is jou mees belangrike waardes as leier?
In die lewenskaartspel besit ek ‘n hand van sterk karakterkaarte. Dit is ‘n kenmerk van my leierskap wat deur effektiewe kommunikasie, samewerking en ‘n diep verbintenis met my skoolgemeenskap. My sterkpunt is my vermoë om met mense te werk, nederig te wees en ander met deernis te hanteer. Hierdie waardes vorm die kern van my leierskapstyl. Ek is hardwerkend en toegewyd om elke taak met ywer aan te pak. My selfversekerdheid lei my om met ‘n positiewe houding en integriteit op te tree. Leierskap vir my is nie net ‘n posisie nie. Dit is ‘n geleentheid om ‘n hand van waardevolle karakterkaarte te gebruik om die speelveld van die skoolgemeenskap te verryk. Ek sien dit as my roeping om ‘n lewenslange spel van positiewe impak en samewerking te speel. Elke kaart is verteenwoordigend van elke individu wat ‘n essensiële rol in die uiteindelike sukses van ons gemeenskap speel.
Wat is jou persoonlike doelwitte vir jou leierskapjaar? En vir Hoërskool DF Malan?
DF het reeds alles waaroor iemand kan droom. Dus is my doelwit nie noodwendig om klomp nuwe projekte by te voeg nie. Ons moet eerder bou op die basis wat ons reeds het. So vat ons die skool van 100 na 120% sodat DF se 70ste jaar die beste een nog kan wees. Ek wil elk een van my Hoofmeisie-take met groot ywer aanpak en verseker dat elkeen van hulle ‘n sukses is. Ek hoop om die jaar ‘n “Buddy-sisteem” te vestig waar Graad 8’s uitsien om eenkeer ‘n week met hulle matrieks pouse te hou.
Ons het ons eerste buddy pouse gehad en dit was ‘n reuse sukses! Ons het dit afgeskop met ‘Just Dance’ en toe oorgegaan na ‘n speletjie van ‘Diversity Bingo’. Die Graad 8’s hulle mede leerders beter leer ken. Die hele graad het daarna gaan sit om hulle matrieks en mekaar beter te leer ken. Ek droom oor ‘n DF waar al die leerders, maar veral die juniors, opgewonde raak om betrokke te wees by die DF familie. En dat die hele DF dus streef na dieselfde norme en waardes sodat ons saam uitnemendheid kan bereik.
Wat is jou sterkste leiers-eienskap?
Soos ‘n kaartspeler wat elke kaart deeglik ken, is ek bewus van my eie sterk- en swakpunte. Ek streef daarna om ‘n omgewing van respek en samewerking te
bevorder. My sterk punt is my vermoë om met mense te werk, nederig te wees en ander met deernis te hanteer. Ek sien myself as ‘n kaartspeler wat elke kaart in my hand met sorg kies en hulle op ‘n wyse uitspeel wat die hele span bevoordeel.
Emma, hoe kry jy, as Hoofdogter 2024, samewerking (commitment) van jou span?
Ek hanteer almal in my span met deernis en hoe ek hanteer sou wou word. Ek maak seker dat hulle my opgewondheid en passie vir die skool kan sien, sodat hulle makliker daarin kan inkoop. Effektiewe kommunikasie is van kardinale belang. Dit is baie belangrik vir my dat die hele span altyd verstaan wat aangaan en dat daar na almal se insette geluister word. Almal in ons span weet dat elkeen van ons ewe belangrik is en dat almal ‘n belangrike rol het om te speel!
As jy enige honde-ras kon wees, watter ras sou jy wees? Hoekom?
Beslis ‘n Labrador. Hierdie besondere ras is bekend vir hul immergroen glimlagte en die opgewondenheid van hulle stertswaai wat ‘n glimlag op mense se gesigte toor. Verder is hulle uitstekende gidshonde wat mense lei wanneer hulle hulp nodig het. Ek deel hierdie passie om mense by te staan en ‘n helpende hand te bied. Soos die lewenslustige labradors, gryp ek elke geleentheid aan met entoesiasme, bereid om in die lewe te spring, net soos hulle soms vinnig in ‘n swembad duik, vol pret en vreugde. Hierdie kenmerke weerspieël my benadering tot lewe en my toewyding om elke oomblik voluit te leef en ‘n positiewe impak op die omgewing om my te maak.
Hoe sal jy jou span lei deur verandering?
Deur inklusiewe besluitneming. Ek glo in die krag van saamwerking om doeltreffend aanpasbare oplossings te vind.
Wat staan die meeste vir jou uit by jou skool?
DF is werklikwaar die skool waarvan almal droom. Ons is een van die baie min skole in ons area wat ‘n oop vakkeuse het. Dit beteken jy kan enige vak van jou keuse neem sonder om deur sekere pakette of vak-bane beperk te word. Ons skool bou dan elke jaar die skoolrooster van die grond af op om te verseker dat elke kind die vakke kan neem waarin hy of sy belangstel. Dit bied elke Dee-Effer die geleentheid om ‘n breë spektrum van vakke te verken. Sodoende kan hulle hul persoonlike belangstellings en sterkpunte ontdek. Deur vakke te kies wat hulle passie aanvuur en waarin hulle uitblink, kan leerders ‘n duideliker prentjie vorm van wat hulle graag in die toekoms wil studeer en beoefen. My suster kon byvoorbeeld skeinat en kuns saam neem en het die sesde posisie vir kuns beklee op die 2020 WKOD-lys.
By DF is dit “cool” om goed te doen op skool en is die kinders gemotiveerd om harder te werk. DF het ook ‘n ryk verskeidenheid van aktiwiteite, van meisieskrieket tot tienertoneel. Hier is werklik waar ‘n plek vir almal om te skitter.
Wie is die persoon na wie jy opsien? Hoekom?
Die is ‘n moeilike een. Daar is so baie mense na wie ek opkyk in my lewe vir verskeie redes. Ek kyk op na my ouers omdat hulle hul alles vir my en my broer en suster gee om te verseker dat ons ‘n goeie toekoms kan hê. Ek kyk op na Steve Jobs omdat hy vindingryk was en die tegnologiese wêreld in 2007 gerevolusioneer het. Verder kyk ook op na my beste vriendin omdat sy altyd die beste in almal raaksien en die grootste omgee hart het. Daar is ontelbaar baie mense na wie ek opsien en wie ‘n groot rol in my lewe speel.
Wat was die hoogtepunt van jou skoollopbaan tot dusver? Hoekom?
Om Hoofmeisie te word! Toe Graad 9 Emma vir die eerste keer in een van die stoele by die dagbestuur onderhoude sit, was sy vasbeslote om soveel as moontlik kennis van die seniorraadslede in te neem. Net daar en dan het, om deel van die dagbestuur te wees my grootste droom geword. Ek het die afgelope paar jaar gewerk en dus voel dit amper soos ‘n droom om nou hierdie onderhoud te kan behartig.
Waaroor dagdroom jy?
My kop word gevul met ‘n warrelwind van gedagtes en drome deur die loop van die dag. Ek is ‘n groot ‘Apple fan’, so ek dagdroom en wonder gereeld oor watter nuwe produkte hulle gaan uitbring! Dan droom ek ook oor my toekoms en alles wat ek nog wil bereik en plekke wat ek nog wil sien. Ek is gedurig besig om te dink oor lekker goed wat ek en my vriende oor die naweek kan doen. En dan spandeer ek natuurlik ook baie van my tyd deur te dink aan hoe ek my skool ‘n better plek kan maak. Ek dink ook permanent wat ek vir my volgende projek gaan doen.
Hoe sal jy, as Hoofdogter 2024, Graad 7 leerders oorreed om jou skool te oorweeg vanaf Graad 8?
Ek sal hulle vertel dat DF die skool is van hulle drome! Dit is ‘n skool wat nie net in wiskunde uitblink nie, maar ook ‘n kragtige gemeenskap is waar almal ‘n plek het. Ons hokkie is fenominaal, ons akademie is ons besigheid, maar ons het ook ‘n ryk verskeidenheid van aktiwiteite. Dit wissel van meisieskrieket tot tienertoneel. DF Malan is ‘n plek waar die gees van samewerking en strewe na uitnemendheid hoog in ons vaandel staan. Ons koor is bekroon as die beste gemengde koor, en ons hou die vlam van sukses brand in alles wat ons aanpak.
Hier by DF Malan berei ons nie net studente voor nie, maar jong volwassenes vir die uitdagings van die grootmens wêreld. Universiteite spog met ons kinders wat met selfvertroue en toewyding hul volle potensiaal bereik. Ek sal die graad 7’s dan nooi om deel te word van hierdie dinamiese en suksesvolle gemeenskap.
In watter rigting wil jy studeer na skool? By watter Universiteit?
Ek staar na ‘n tweespoor besluit: Medies of Aktuariëel. Ek geniet dit verskriklik baie om met mense te werk en het ‘n passie vir mense help. Maar is ook vreeslik lief vir Wiskunde en Ekonomie. Ek gaan die jaar nog bietjie skaduwerk doen, maar ek het gelukkig nog tyd om te kies watter rigting ek gaan studeer! Ek gaan aansoek doen vir dié twee rigtings by die Universiteit van Stellenbosch.
Hoe sal jou vriende jou beskryf?
Sosiaal, energiek, hou van praat, hardwerkend, gedissiplineerd, hulpvaardig, kreatief, selfversekerd, doelgerig, diensbaar en nederig.
Meer skolenuus: https://schoolsthatrock.co.za
Foto verskaf