Hokkie Kapteins. In ons reeks oor sport kapteins, gesels Schools That Rock vandag met Christiaan Schabort. Christiaan is die kaptein van Hoërskool Langenhoven van Riversdal in die Suid-Kaap se 1ste seuns hokkiespan. Hy teken vandag die twaalfde doel aan in ons reeks oor Hokkie Kapteins van hoërskole in Suid-Afrika.
“Ek het begin hokkie speel toe ek 5 jaar oud was. Toe my suster in graad 1 was, het ek (Gr. RR) altyd langs die veld hokkie gespeel terwyl sy oefening gehad het.
Tans speel ek senter ‘link’, maar ek was oral op die veld betrokke, behalwe vir ‘goalie’.
My gunsteling hokkie speler is Austin Smit. Hy is Suid-Afrika se top hokkie speler, in my opinie.
Die eerste keer wat ek as hokkie kaptein gekies is, was êrens in die laerskool. Watter graad dit was kan ek ongelukkig nie presies onthou nie. Volgens my is die grootste taak van die kaptein om die span se gemoed hoog te hou.
Oefening
Ons span oefen gewoonlik twee keer ‘n week. Ek het self nie ‘n vaste oefen program nie, maar ek bly baie aktief met ander aktiwiteite ook. Die bekwaamhede waaroor ‘n goeie hokkiespeler moet beskik, dink ek, is die belangrikste deursettingsvermoe en goeie kommunikasie. My sleutel tot sukses op die hokkieveld, is my fokus op die ‘game’ en ek moet dit geniet!
Ek geniet die sport vreeslik baie, en ek raak opgewonde voor elke wedstryd vir die geleentheid om weer dit te kan speel. Dít is wat my inspireer elke keer wanneer ek op die hokkieveld stap vir ‘n wedstryd.
Lekkerste wedstryd
My lekkerste wedstryd was toe ek nog in graad 7 was. Ons het ‘n wedstryd teen Laerskool Hartenbos gespeel. Ek en Nel Visagie het besonders lekker saam gespeel daardie hele wedstryd.
Ek hou daarvan om grappies hier en daar te vertel. Sodoende hanteer ek druk op die veld. Dit help om die span se gemoed te verhoog. As hokkie kaptein motiveer ek my span deur hulle te dreig met fiksheid!
My huidige top 5 prioriteite in die lewe is om klaar te maak met skool; toelating te kry by ‘n universiteit; sukses te bereik; om ‘n positiewe verskil te maak in wat ookal ek doen en alles te geniet in die proses.
My raad aan beginners in hokkie is ‘practice makes perfect.’ Hokkie is uit en uit muscle memory.
Die enigste tyd wat ek na hokkie op die televisie kyk, is wanneer dit die olimpiese spele is.
Doelwit
My doelwit vir die korttermyn is om graag vir die Eden (SWD) span wil speel. Ja, ek sal graag wil voortgaan met hokkie op universiteit.
Ek hanteer my verantwoordelikhede by hokkie saam met sosiale en akademiese verantwoordelikhede deur een ding op ‘n slag aan te pak, en begin net.
My grootste enkele hoogtepunt die afgelope vyf jaar was om as onderhoofseun verkies te word.
Ja ek het ander belangstellings buiten hokkie soos surf, visskiet, roei, jag en fietsry, om net ‘n paar te noem.
Die bekwaamhede waaroorek beskik as goeie hokkie kaptein, ia om die spel goed te ontleed, en rustig te bly.
Hoe my afrigter en spanmaats my sal beskryf? Hopelik as iemand wat ‘n goeie voorbeeld stel.
Ek sien op na al my hokkie afrigters, want ek het iets nuuts by elkeen van hulle geleer.
Wat my die meeste opgewonde in die lewe maak, is al die toekomstige moontlikhede wat ek graag sal wil bereik.
Die professionele hokkiespeler saam met wie ek graag sal wil koffie drink, is Ellen Hoog.
As ek myself in een woord moet beskryf: Gebalanseerd.”
Meer skolenuus: https://schoolsthatrock.co.za
Foto’s verskaf