Mnr. W.A. Kotzé, skoolhoof van Hoërskool Upington is op Dinsdagaand 22 November 2016, tydens ’n pragtige geleentheid in Kimberley as die Provinsiale wenner aangewys in die kategorie “Excellence in Senior Secondary School Leadership”. Hierdie toekenning is deel van die National Teaching Awards wat jaarliks toegeken word.
Die National Teaching Awards het in 2000 ontstaan om erkenning te geen aan persone en groepe asook skole vir die uitnemendheid wat hulle aan die dag lê om gehalte onderwys aan kinders te gee. Daar is verskeie kriteria waaraan die persone, wat genomineer is, moet voldoen. Dit sluit in Algemene Kriteria soos diversiteit asook die skep van ’n leeromgewing. Daar is ook sekere spesifieke kriteria vir elke afdeling. In hierdie afdeling moet die persoon, wat genomineer is, bewys van onder andere leierskap vaardighede en ook ander aspekte van leierskap gee.
Mnr. Kotzé het besonder goed gevaar in die uitdunne en is aangewys as die wenner in die Z.F. Mgcawu / Namakwa cluster. Die persone wat na die provinsiale rondte deurgedring het, het ’n onderhoud met die provinsiale paneel gehad en moes ook ’n voorlegging met behulp van die rekenaar doen. Mnr. Kotzé het hom weereens besonder goed van sy taak gekwyt tydens die onderhoud en voorlegging.
Hoërskool Upington se personeel, SBL, leerders en vriende is besonder trots op hierdie prestasie en die toekenning. As Uppie famile is ons trots om te sê dat Hoërskool Upington in sy 120ste bestaansjaar ook die Beste Hoërskool Skoolhoof in die Noord-Kaap het. Een van Hoërskool Upington se Graad 10 leerders skryf: “Mnr. Kotzé is die tou wat die Uppie familie bymekaarhou!” Dit is voorwaar wat hierdie besonderse man elke dag van sy lewe by Hoërskool Upington doen.