‘n Dag vol kleur, asemrowende idees, sandkastele, vreugde en vele meer. Dit was Vlotvaart 2017 van Hoërskool Punt. Nie net was daar vlotte nie, maar daar was ook touchies, toutrek, volleyball, ‘n sandkasteel-kompetisie, Mnr. en Mej. Vlotvaart, kayaking en die ysterman- en  ystervroukompetisie.

Vroegoggend het Hoërskool Punt by Santos-strand bymekaar gekom om dié vlotte op die water te sit. Dit was eerste die juniors se beurt om te vaar en die vlotte wat daar te siene was, was regtig WOW! Die vlotte het in groepies van vier gevaar, waar hulle ‘n gemerkte roete in die see so vinnig as moontlik moes voltooi.

Terwyl die juniors in die water rond spat, was die seniors besig op die sand. Hulle het die dag begin deur hulle kreatiwiteit te wys by die sandkasteelkompetisie, hulle krag by die toutrek en hoe vaardig hulle met ‘n bal is by die touchies en volleyball. Die spanne het hulle gate uit geniet en het baie oulik gelyk in hulle uitrustings wat hulle self vir die dag gemaak het.

Tienuur het ons ‘n blaaskans gevat. Die leerders het toe die geleentheid gehad om net lekker in die see af te koel. Daarna was dit die seniors se beurt om hulle slag te wys met hul vlotte en die juniors het doenig geraak op die sand. Die seniors se vlotte was net so asemrowend, van hulle het selfs gemaklike stoele gehad om in te sit. Dit was duidelik dat daar baie moeite met dié vlotte gedoen is.

Baie dankie aan al die onderwysers, leerders en ouers vir al julle moeite. Sonder julle sou die dag nie ‘n sukses gewees het nie! Ook dankie aan die NSRI wat ons leerders met valkoë dopgehou het terwyl ons in die water baljaar het. Ek sien sommer klaar uit na Vlotvaart 2018!

Become a Sponsor