Agter (v.l.n.r.) Nekeshia Africa (York), Monicke van der Walt (OHS), Siba Sithembile (York), Bradley Prince, Keno Carelse, Nicklen Gelderbloem (OHS), Philip Myburgh (OHS), Kelsey Albertus, Dillon Cornelius, Logan Jantjies (OHS)
Voor (v.l.n.r.) Duncan Johnson, Lynette Petersen, Kerwin Albertus
Die talentvolle saksofoon-speler en oud-Kwagga, Kerwin Albertus, (19jr) het op Vrydag 21 Mei ‘n besonderse huiskonsert aangebied.
Saam met hom op die verhoog was die Kaapse jazz-trio, “The Mangoes,” met Bradley Prins op elektriese kitaar, Duncan Johnson op saksofoon en Keno Carelse op dromme. Hierdie dinamiese trio is bygestaan deur Dillon Cornelius, ook een van ons plaaslike musikante wat huidiglik musiek by Stellenbosch Universitieit studeer.
Die groep het ‘n program van Suid-Afrikaanse jazzmusiek uitgevoer en sodoende hulde gebring aan kunstenaars wat swaar deur die uitdagings van die Covid-19 pandemie getref word. Die musiek was van ‘n uitsonderlike gehalte en het die musikaliteit van elke individuele speler in die ensemble weerspieël. Hoewel die groep hoofsaaklik instrumentale werke vertolk het, is die gehoor trakteer met die vokale talent van Kelsey Albertus in haar weergawe van die lied Lakutshon’ Ilanga, bekend gemaak die die Suid-Afrikaanse Jazz-ikoon, Miriam Makeba.
Albertus en die groep het verder ‘n werkswinkel op Saterdag, 22 Mei by Hoërskool Outeniqua aangebied, waar hulle leerders bekend gestel het aan die Jazz-styl. Daar is ‘n in-diepte gesprek gevoer oor die belangrikheid van musiekbeluistering, die rol van elke instrument in ‘n ensemble, sowel as die interaksie tussen spelers in ‘n ensemble. Die leerders is ook in instrument-groepe verdeel waar hulle spesiale kontaksessies met die onderskeie musikante ontvang het. Na afloop van die werkswinkel het al die leerders saam met hul mentors aan ‘n spesiale uitvoering deelgeneem.
‘n Hartlike dank gaan aan Kerwin Albertus wat die projek gedryf het, die Albertus-gesin wat die jazz-trio gehuisves het, asook aan juf Lynette Petersen vir haar ondersteuning en bydrae.