Chanél Morgan ‘n graad 12-leerder van Hoërskool Kroonstad is die wenner van die LitNet se Vonkfiksie-skryfkompetisie “Vuur in die argief”.
Haar wenskrywe was “Vuur op my tong”.
LitNet het leerders uitgenooi om deel te neem aan hul Vonkfiksie-skryfkompetisie. Die brand wat onlangs gedeeltes van die biblioteek- en argieffasiliteite van die Universiteit van Kaapstad in puin gelê het, herinner mens aan die verganklikheid van alles wat ons waardevol ag.
Leerders moes ’n storie skryf van tien woorde met die titel “Vuur in die argief”.
Hul verhaal moes nie noodwendig oor die brand by die UK gehandel het nie, alhoewel hierdie tragedie voorop in baie mense se gedagtes was.
Elkeen wat deelgeneem het moes besef dat van hulle ’n biblioteek op bene is, elk met sy of haar eie geheue as persoonlike argief. Hulle moes hul geheue vrye teuels gee.
Hulle moes verder nadink oor die aard van ’n argief. Wie het die dokumente in ’n gegewe argief geskep? Vir watter doel? Oor wie se lewens handel daardie dokumente? Waarom word juis daardie dokumente bewaar en ander nie?
Hoekom is dit belangrik om alles te onthou? En – dalk – soms te vergeet?
Wie is die opsigters van ons gedeelde erfenis? Sien ons behoorlik om na hierdie skatte? Het Suid-Afrika genoeg ruimte om almal se artefakte veilig te stoor – en genoeg fondse vir landwye museums en versamelings?
Baie geluk Chanel, Blouskool is baie trots op jou!