Die Taalbondeksamen bestaan uit ‘n vraestel in Engels en een in Afrikaans vir Seniors (grade 11-12) en ‘n soortgelyke vraestel vir Juniors (grade 8-10).
Behalwe vir die aantreklike pryse wat aan toppresteerders in hierdie eksamen deur die akademie vir Wetenskap en Kuns geborg word, doen leerders ook uitstekende ondervinding op in die beantwoording van eksterne vraestelle.
Kandidate wat die eksamen suksesvol afgelê het, ontvang elkeen ‘n sertifikaat met ‘n simbool wat die graad van tweetaligheid aandui.
Hoërskool Jan van Riebeeck het vanjaar ‘n groot groep leerders van graad 8 tot 11 wat aan die Taalbondeksamen deelgeneem het.
Wat ‘n eer om dan wéér die Junior Toppresteerder in ons groep te hê. Lené Vorster, ‘n graad 10-leerder, het vir die tweede opeenvolgende jaar hierdie besondere prestasie behaal.
Hoërskool Jan van Riebeeck is baie trots op hul leerders en baie beïndruk met Lené!