Ek was gisteraand bevoorreg om ‘n baie spesiale geleentheid by te woon wat ‘n groot impak in my lewe gemaak het. ‘n Vraag wat ek dikwels vra is: “Hoekom gaan dit so goed in Hoopstad? Hoekom is hierdie gemeenskap so geseënd?” Die antwood bly altyd dieselfde en so eenvoudig…dit moet goed gaan as die mense sulke ongelooflike omgee-harte en siele het. Die mense het nog tyd vir mekaar en is nie te besig om die nood en behoeftes van ander raak te sien nie. God werk in Hoopstad se mense se harte en siele.
Dit bring my by gisteraand se verrigtinge! Daar het onbekende donateurs gereël dat 8 persone nuwe voertuie van Oranje Toyota Welkom ontvang. Ek weet dat elkeen van hulle die donateurs self sou wou bedank, maar ek kan u verseker dat die dankbaarheid wat elke ontvanger uitgestraal het, boekdele spreek. Oranje Toyota Welkom se personeeel het hierdie geleentheid met soveel liefde en takt hanteer sonder om enige krediet daarvoor te neem.
Alle eer aan God wat deur middel van mense se harte hierdie moontlik gemaak het. Ek is trots om te kan sê ek is deel van so ‘n omgee gemeenskap.