Die EHS het Nelstehuis se droomboom ingeskryf vir die jaarlikse Gaufestival: “Bome is lewe”-kompetisie. Die kompetisie het behels dat die boom se omtrek en hoogte gemeet moes word. Daar moes ook ‘n foto saamgestuur word.
Die prysuitdelingsfunksie het op 1 Oktober 2017 plaasgevind. Die twee Erries wat hiervoor ingeskryf het wen die eerste prys en skop stof in die Gautengers se oë! Benewens pragtige boeke het hul ook ‘n boom vir die skool gewen – ‘n Papierbasboom!
Daar moes ook ‘n skets van ‘n boom gemaak word, sowel as ‘n gedig oor ‘n boom geskryf word. In hierdie afdeling ontvang Vandré Swart en Liezl Roos ‘n tweede plek.
Die Erries is besonder trots op hul besondere mooi tuin, waarvan die droomboom deel is. Die Erries se talent en veelsydigheid word weereens met hierdie mooi prestasie bevestig!