Hoërskool Ermelo Dogterskrieket wen eerste ligawedstryd teen Standerton.
Op Woensdag 25 November het EHS aan hul eerste amptelike krieketligawedstryd deelgeneem. Die wedstryd het tuis plaasgevind teen Hoërskool Standerton. Standerton word ingestuur om eerste te kolf nadat EHS die loot gewen het. Daar word vining deurbraak gemaak en die eerste vier paaltjies is plat vir net vier lopies. Standerton veg egter terug en teken 130 lopies vir agt paaltjies in hulle toegelate 20 boulbeurte aan. Jana-Marie Thomas boul uitstekend en neem vier paaltjies vir net 6 lopies in vier boulbeurte.
EHS gaan kolf en Junicke Broekman en Hannah Cloete lê ‘n goeie fondasie voordat daar ‘n paar vinnige paaltjies val. Die twee Broekmansussies, Junicke en Yané, kolf uitstekend en teken ‘n vennootskap van 92 lopies aan voordat die vyfde paaltjie val. Hulle is ook die twee beste kolwers met Junicke wat 35 lopies aanteken en Yané wat 29 lopies nie uit nie, aanteken. Drie verdere paaltjies val voordat EHS die wenlopies in die negentiende beurt slaan.
EHS wen hul eerste 20/20 ligawedstryd met twee paaltjies!
Baie geluk aan elke speler wat haar bes gedoen het. Die Erries is besonder trots op julle.