Foto: ‘n Groot groep Erries en Errie-ouers saam met die regisseur, David Schröder
Die EHS is besonder bevoorreg om deel te wees van ‘n nuwe rolprent, “Mense van die Wind”. Die produksiemaatskappy, Azania Productions, het EHS in 2020 genader na aanleiding van die Erries se mooi terrein, geboue en fasiliteite.
Die skrywer en regisseur, David Schröder, het die film geskryf met die Ermelo-omgewing in gedagte.
Hoërskool Ermelo was Schröder se nommer een keuse om die hoërskool te wees wat ‘n groot gedeelte van die rolprent uitmaak.
Klaskamers, stoepe, kafeteria, sport-spankamer, ouditorium, sportvelde en koshuise van Hoërskool Ermelo is ondere ander gebruik vir die verfilming.
Die Errie-leerder en –ouers was met groot entoesiasme deel van die produksie as agtergrond-ekstra’s. Om betrokke te wees by die maak van die film was vir die Erries ‘n baie interessante leerskool – soveel aspekte van die filmbedryf en van wat agter die skerms gebeur, het die leerders se belangstelling geprikkel. Dit sluit in: videografie, beligting, grimering en uitrustings, stel- en kuns-ontwerp, klank- en video-redigering, regie, produksiebestuur, spesiale-effekte, kontinuïteit, om net ‘n paar te noem.
Groot name, soos Armand Aucamp, Diani Gernandt, Juan de Wet, Ramey Short, Greta Pietersen, Renier Basson, Nieke Lombard, Msuthu Mbobowana, Magda van Biljon en Erik Holm, is akteurs wat in die rolprent te sien sal wees.
Die storielyn handel oor ‘n bekende sanger van Pretoria wat as gevolg van verskeie verliese uit die stad vlug. Hy (Armand Aucamp) kom soek vrede op ‘n familieplaas buite Ermelo. Met die terugkeer na die platteland, loop hy ‘n vorige liefde van hom raak wat ‘n musiekonderwyser is by die hoërskool. Sal hy sy vrede vind op die platteland?
Mense van die Wind se verwagte vrystellingsdatum is in 2022.
Die Erries is besonder opgewonde om die eindproduk te sien en is dankbaar vir hierdie geleentheid wat die Erries te beurt geval het.
Foto’s verskaf