Foto: Die matrieklede in 2020 se OMS-simfonieokes is van links, voor: Christi, Anke, Jana, Michelle; agter: Ivanke, Kayla de Jager, Ebet Bouwer, Rehanjo, Charlotte, Celenté van Zyl. Afwesig: Kaitlin Els.
Vir ’n klompie integrale lede van Oranje se simfonieorkes die laaste paar jare was orkes-oefening die ekwivalent van gimnasiumoefening. Want behalwe vir die 170 kalorieë per uur wat Anke Rheeder met haar viool kon verbrand, het die oefening hulle ook energie verskaf, sê Jana Campbell.
“Jy kom moeg by die oefening aan, maar gaan daar weg met nuwe energie,” beskryf Jana dit.
“Jy was dikwels nie gretig vir oefening nie, maar as die musiek eers begin het, het dit lekker geword,” verduidelik Anke.
Dan moes hulle dikwels eers van hulle afrigter, mnr. Heinrich Lategan, hoor: “Kom ek vertel julle gou hierdie storie.”
Anke, Charlotte Doubell, Christi Dempers en Rehanjo Swanepoel was die enigste van die 11 matrieks in vanjaar se orkes wat ’n instrument kon bespeel toe hulle in gr. 8 arriveer het.
Daarna het baie van hulle maats ook aangesluit. “Dit was seker maar groepsdruk,” sê Rehanjo.
Volgens Lategan het die nuwelinge gewys dit ís moontlik om eers in jou hoërskoolloopbaan ’n instrument baas te raak. Almal het op gr. 4 of gr. 5-vlak geëindig.
Hy praat met groot lof van 2020 se orkes matrieklede. “Hulle is die leerders wat van ’n skoolorkes ‘n simfonieorkes gemaak het omdat ons alle instrumente daarin gehad het. Selfs ’n fagot (deur Ivanke van Jaarsveld). Ons het ook vir die eerste keer in jare ’n altviool gehad (wat Jana en Michelle Strydom gespeel het).”
Volgens Lategan het die orkes geweldig uitgebrei van 2016 met ’n beginnersorkes wat selfs in die lewe geroep is.
Volgens die groep was daar oor die vyf jare vele onthou-oomblikke, aangename ervaringe en was enige konsert-optrede ’n hoogtepunt, spesifiek die interskoles. Hulle sonder ’n massa orkes-extravaganza, Judas Iskariot-musiekspel en konserte in die Odeion-teater as ander hoogtepunte uit.
Wanneer hulle gereis het, was Anke se viool (haar “baba”) altyd op haar skoot en sy haar kop lekker op die viooltas rus.