Ronée (matriek 1981) sit Oranje se trotse tradisie voort van regsgeleerdes wat as advokaat praktiseer. Sy het die status van SC (senior consultus) enkele jare gelede bekom en het al ’n paar keer as regter ageer.
Met twee meestersgrade in die reg en ‘n honneursgraad in filosofie (cum laude) spesialiseer sy in alle aspekte van intellektuele eiendomsreg. Sy is ook geroep tot die Engelse balie (Middle Temple).
’n Boek deur haar gepen, Access to information, het in 2016 die lig gesien met die voorwoord deur Edwin Cameron, afgetrede regter van die Konstitusionele Hof. Die boek bevestig onder meer die belang van onafhanklike en vrye denke sodat alle vorme van tirannie beveg kan word.
Ronée het matriek met ses onderskeidings geslaag.
— Oranje wou by haar weet:
— Wat is jou aangenaamste herinneringe van jou skooldae op Oranje? Oranje was en is vir my ‘n sine qua non. Sy is nie oop vir debat nie. Oranje is hoe die wêreld moet wees.
Dit het my gevorm en sedertdien vind ek alles wat nie in harmonie is met Oranje waardes nie, teen my eie waardes en dus onaanvaarbaar. Ek is elke dag dankbaar vir Oranje.
Die integriteit, onbevraagtekende toewyding aan plig, vreugde in dienslewering, wat Oranje kenmerk, vibreer só sterk met my dat ek maar net juf. Spies se woorde met elke saalsessie kan echo: Die meetsnoere het vir my in lieflike plekke geval, my erfenis is vir my mooi.
— Wat het jy op Oranje geleer wat ’n invloed op jou beroep en visie gehad het? Integriteit, waardes, toewyding aan werk, doen jou plig en moet om hemelsnaam nie kla nie. Jy bepaal jou lot. Doen jou plig en alles sal regkom.
— Wie was jou gunsteling-onnie en hoekom? Elkeen was uitsonderlik. Daar was natuurlik juf. Spies (oud-skoolhoof). Haar uitsonderlike gees onderskraag ons steeds. Elegant, slim, polities uitgeslape, ai, wat ‘n voorbeeld.
Die Afrikaner/Calvinistiese werksetiek het uitmuntenheid verseker. Dit was die goue dae toe luiheid, argeloosheid en onbekwaamheid ondenkbaar was en dit heeltemal ondenkbaar was dat mens dit as denkmantel vir geloofwaardigheid sou aantrek. Ek was uiters bevoorreg om ‘n bogemiddelde opvoeding te geniet, danksy Afrikaner-uitmuntenheid.
— Het jy teen einde matriek al geweet watter loopbaanrigting jy wou inslaan of wat jou planne toe? Ja, ek het dit reeds geweet toe ek sewe jaar oud was.
— Waaraan het jy op skool deelgeneem en het jy in iets uitgeblink? Ek was lief vir klavier (graad 7), viool (graad 7), spraak en drama (beste aktrise, Engelse skole-dramafees), debat, wiskunde (vyfde in die wiskunde-olimpiade in matriek); tale (Latyn, Afrikaans en Engels met ’n sewede plek in die Taalbond-kompetisie).
— Wat sal jou kort boodskap aan die Oranje-leerders wees? Doen jou plig en alles sal regkom.
— Wat is jou hoogtepunt van jou beroepslewe tot dusver? Dit kan ek ook nie antwoord nie. Uiteraard is dit belangrik vir my om ‘n goeie advokaat te wees en, sou ek nie my aanstelling deur die staatspresident as SC ontvang het nie, sou dit uiters teleurstellend gewees het.
Maar op die ou end is die ware waarde wat só ‘n uitdagende beroep ’n mens bied, konstante groei en verbetering. Dus, te alle tye: VOORUIT en onthou: Jy kan altyd beter.
— Is jy getroud, kinders? Nee, maar ek het verskeie kinders van kleur deur skool en een deur universiteit gehelp. Tans is daar Shonatjie wat die mooiste Afrikaans besig. Hopelik sal sy haar hoërskoolloopbaan by die Hoërskool Jan van Riebeeck in die Kaap kan doen (wel, definitief as ek enigiets daarmee te make het).
— Wat was die inspirasie agter die skryf van jou boek? As ‘n Afrikaner en afstammeling van oorlewendes van Engelse konsentrasiekampe, asook as iemand wat meertalig is (Frans, Duits en Nederlands), is ek maar te bewus van die gevare van tirannie, veral eentalige tirannie.
Ons grootste waarborg vir vryheid lê in ons toegang tot die waarheid en die uitdaging van daardie magte wat hulle posisies van mag en voorreg wil behou ten koste van die belange van die ware belange van die mensdom.
Ons moet altyd waag om Protestante te wees om soos Martin Luther te waag om vir (die destyds) magtigste instansie op aarde te sê: Hier staan ek, ek kan nie anders nie. God Help My.