Hoër Meisieskool Oranje in Bloemfontein het ’n dubbele nasionale kampioen in die 15-jarige Danielle Joubert.
Nadat sy Saterdag die tetrathlon-titel vir o.17’s in Somerset-Wes gebuit het, het sy dit Sondag opgevolg met die verowering van die Nasionale Laser Run-kampioenskap/titel (ook vir o.17’s). Danielle het daarmee ook haar plek in die Suid-Afrikaanse span na die Laser Run-wêreldkampioenskappe in Junie in Egipte bespreek. Laser run bestaan uit 4 x 400m met laserpistoolskiet tussen elke ronde.
Tetrathlon is skerm, 200m swem, 3 x 800m hardloop tesame met laserskiet tussen elke ronde. Oranje het ’n sterk verteenwoordiging by die laser run gehad met sewe deelnemers. Miché Johns het 2de ná Danielle geëindig. Lané van Rooyen was 4de en Anina Groenewald 5de.By die o.15’s was Donna le Roux 5de, Ezeth Esterhuizen 10de en Michaela van Rooyen 18de. In Saterdag se tetrathlon het Oranje se ander deelnemer, die 15-jarige Lané, derde vir o.17’s geëindig.
Foto’s verskaf