Die vooruitsig om mense trots op die hokkieveld te maak en die seldsame geleentheid om die veld met haar sussie te deel was ’n groot dryfveer vir Mikkela le Roux om van 2020 ’n groot jaar te maak.
Ongelukkig vir kaptein Mikkela (gr. 12) het die Covid-19-pandemie die eerste span se seisoen ná agt kragmetings beëindig. Dit was vanjaar die eerste keer wat sy en Nicóle (gr. 10) in dieselfde span was.
“Ek het uitgesien om met 2020 se span diegene wat voor ons in dié span gespeel het trots te maak en om goeie, genotvolle hokkie te speel sodat mense vir ons wou kom kyk. Ek het ook uitgesien om saam met my sussie te speel.
“Dit was so hartseer om nie in my laaste jaar in die eerste span die skool te kon trots maak nie, want dis waarna ’n mens uitsien vandat jy in die span is.
“As span wil ons altyd verbeter op die vorige jaar en onsself laat uitstaan bo die res,” sê Mikkela.
Sy was sedert haar gr. 9-jaar deel van die eerstes. Mikkela was vanjaar ’n lid van die Suid-Afrikaanse o.21-span en sou vir die SA o.18-span uitgedraf het. Sy het in 2019 haar buiging in die senior Premierligahokkieliga gemaak. Verlede jaar op die St. Mary’s-toernooi was sy as die beste speler aangewys en was die Interprovinsiale Toernooi se beste middelveldspeler.
Volgens Mikkela was haar heel laaste wedstryd vanjaar in Oos-Londen in Maart een wat vir haar uitstaan. Hulle het Kingswood College met 19-0 geklop en sy het 11 van die doele gesink.
“Die verhoudings wat jy bou met verskillende mense, die gevoel van trots wat jy ervaar as jy die eerstespandrag aantrek en dat jy weet die herinneringe sal vir altyd bly, maak dit alles spesiaal om vir die span te speel.
“Jy moet altyd speel of dit jou laaste wedstryd is, want jy dink nooit dit sal gebeur nie tot dit doen. Jy moet speel sodat jy nie spyt is ná die tyd nie en elke oomblik waardeer, want sodra dit verby is, sal jy enigiets gee om dit weer te hê.”
* Die artikel is ’n eerbetuiging aan Mikkela vir haar diens aan die skool se 1ste hokkiespan en vir dit wat sy vanjaar vir die span sou beteken het, maar nie die kans gekry het nie.