Framesby. Dit is vir Schools That Rock ‘n voorreg om ‘n paar vrae te vra aan Tiaan Nortjé, Onderhoofseun vir 2022 van Hoërskool Framesby in Gqeberha.
Tiaan, hoe sien jy jou rol as hoofleier van Hoërskool Framesby?
My rol as hoofleier in Hoërskool Framesby is vir my baie belangrik. Soos my ma altyd sê: “die hoogste bome kry die meeste wind”. Hierdie woorde motiveer my om myself in lyn te hou en elke dag ‘n goeie voorbeeld vir mede leerders te wees. Ek sien my rol as ‘n voorreg om leerders, wat deur moeilike tye gaan, te help en om hulle op die regte pad te lei.
Dink jy dat die maatreëls wat die regering tov Covid-19 vir skole ingestel het voldoende is?
Ja, ek dink die maatreëls wat die regering ten opsigte van Covid-19 vir skole ingestel het, is voldoende.
Na wie sien jy op vir inspirasie of mentorskap?
Ek kyk op na my pa, sowel as my oupa vir inspirasie en mentorskap.
Watter studierigting beoog jy na skool?
Ek beoog Baccalaureus in Geneeskunde en Baccalaureus in Chirurgie na skool.
Dink jy dat Suid-Afrikaanse skole voldoende geleenthede bied vir die studierigting wat jy gaan volg? Waarom?
Ek dink Suid-Afrikaanse skole bied nie voldoende geleenthede vir die studierigting, wat ek wil volg, aan nie. Kinders moet van jongs af basiese noodhulp aanleer. Sodoende sal dit hulle help om te besef in watter studierigting hulle graag in sal belangstel.
Dink jy dat deelname aan sport verpligtend moet wees in skole?
Ja, ek dink dat sport-deelname verpligtend moet wees, want ‘n gesonde liggaam huisves ‘n gesonde gees en dit is belangrik om ‘n goeie balans te handhaaf.
Wat het jy sover die meeste geniet tydens jou skoolloopbaan?
Ek het die graad agt inhuldiging die meeste geniet. Die motivering van die Monitorbestuur van 2018 en hulle inspirerende toesprake, het my die nodige voorsprong gegee vir my Hoërskool loopbaan.
Is jy honderd persent seker van jou studierigting na skool? Verduidelik jou antwoord.
Ek is doodseker oor my studierigting na skool. Die anatomie en fisiologie van die menslike liggaam fassineer my geweldig. Die gevoel om mense in nood te help en by te staan is onbeskryflik.
Watter Universiteit verkies jy na volgende jaar?
Ek beoog om gekeur te word by die Universiteit van Kaapstad of by die Universiteit van Stellenbosch.
Foto verskaf
Lees meer skolenuus: