V.l.n.r: Johan Strauss, Zané du Plessis en Johnke Prinsloo
Op Woensdagmiddag 2 Junie is ‘n debatswerkswinkel van 14:00 – 17:00 vir al die Errie-debatteerders aangebied. Dr. Gustav von Bratt, ‘n gesoute ATKV Debat-beoordelaar asook huidige afrigter van Affies se debatspanne, het die Erries ‘n bietjie kom touwys maak oor debat.
Dr. Von Bratt het die Erries meer omtrent die fynere kunsies van debat kom leer. Aan die einde van die werkswinkel is twee Errie-spanne ook die geleentheid gegun om hul vaardighede op die proef te stel met ‘n onvoorbereide impromptu-debat.
Debat beleef tans ‘n oplewing by Erries. Hoërskool Ermelo het vanjaar vyf spanne vir die ATKV Debatkompetisie ingeskryf. Die twee juniorspanne het onderskeidelik vierde en vyfde in die provinsiale kompetisie geëindig. Ses Errie-debatspanne neem DV einde Julie aan die Con Spirito-debatskompetisie te Helpmekaar Kollege deel en einde Augustus wag die immer gewilde Dink-of-Sink Debatskompetisie weer op die Erries.
Hoërskool Ermelo is groot dank aan dr. Von Bratt verskuldig en sien met opwinding uit na die res van 2021 se debatseisoen!