Foto bo: Vlnr: Rian Barnard en Leo Luyt
Erries se eerste krieketspan. Die Erries se eerste krieketspan het op Woensdag 25 Augustus op uitnodiging teen Carolina Akademiese Skool gespeel. Dit was hul eerste wedstryd van die 2021-seisoen. Dié wedstryd was die eerste van twee vriendskaplike wedstryde wat die Erries sal speel. Dit is ter voorbereiding vir die liga-seisoen wat voorlê.
EHS kolf eerste
EHS wen die loot en besluit om eerste te kolf. Op ‘n uiters uitdagende “flexi”-blad kwyt die Errie-aanvangskolwers hul goed van hul taak. Hulle het ‘n goeie fondasie bebou. Aanvangskolwer, Rian Barnard, lei sy span se aanslag met ‘n fenomenale beurt. Na slegs 80 aflewerings bereik Barnard sy hondertal. Twaalf balle later eindig hierdie belowende speler sy beurt op 131 lopies. Die Errie-kolwers handhaaf deurgaans ‘n goeie lopie-tempo van 10.44. Hulle eindig hul beurt na die toegelate vyf-en-twintig beurte op ‘n telling van 261 vir die verlies van ses paaltjies.
Met die bal in die hand het die Errie-boulers uit die staanspoor gewys wat te wagte kan wees. Met ‘n paar vurige aflewerings het hulle die opponente vroeg reeds op die agtervoet geplaas. Spel is egter kortliks gestaak as gevolg van reën. Na die breek het die Erries vinnig met hul opponente afgereken. Carolina kon slegs 40 lopies vermag voordat hul deur vlugtige en effektiewe boulwerk uitgeboender is. Tiaan Grobler het in 2 boulbeurte vier paaltjies geneem sonder om enige lopies af te staan nie. Daar was ook groot opwinding vir openingsbouler, Corné Janse van Rensburg. Hy het ‘n driekuns behaal. Die Erries se kaptein, Corné Janse van Rensburg, spog ook met besonderse syfers van drie paaltjies vir drie lopies in drie boulbeurte.
Die Erries se span stap met goeie ervaring uit dié wedstryd. Hulle bedank Carolina Akademiese Skool vir dié geleentheid.
Baie sterkte met die komende seisoen, Erries. EHS hou jul dop en sien uit na julle spogspel op die krieketveld.
Lees meer oor Erries:
https://schoolsthatrock.co.za/category/other-provinces/mpumalanga/mpumalanga-schools/