Dit was vir Hoërskool Nelspruit ‘n besonderse voorreg om op Vrydag, 14 Mei, vir die eerste keer die Mpumalanga-rondte van die ATKV-Debatskompetisie aan te bied!
Sestien deelnemende spanne van Hoërskool Bergvlam, Hoërskool Ermelo, Hoërskool Lydenburg en Hoërskool Nelspruit het mekaar die woordstryd aangesê.
Die bekkige graad 8’s van NHS, Clarissa Botha, Rohann Schultz en Pedrie Claassens het onder leiding van advokaat Maritza Uys as wenners van die junior afdeling deurgedring na die nasionale finaal wat vanjaar op 12-14 Augustus te Buffelspoort plaasvind. Die juniors se debatsonderwerp was of Geskiedenis ‘n verpligte vak in alle Suid-Afrikaanse hoërskole behoort te wees of nie.
In die senior afdeling het twee spanne deurgedring na die Nasionale finaal. Niandi Coetzee en Cornelis van Dyk, albei in graad 10 en ook deur adv Uys afgerig, het as wenners uit die stryd getree. Kort op hul hakke was die graad 12-span, Erika le Roux en Teneil le Roux, wat afgerig is deur mnr Theo van der Westhuizen. Die seniors moes argumenteer of die onttrekking van multinasionale maatskappye aan Suid-Afrika die land tot voordeel behoort te strek of nie.
Die Mpumalanga-kompetisie is deur die ervare ATKV-beoordelaars, mnr Bennie Botha van Witbank, dr Gustav von Bratt en mnr Hano Wasserman van Pretoria beoordeel.
By die juniors was Rosemarie Oberholzer, Markus Muller en Tanya Pieterse van NHS in die tweede plek, gevolg deur Bergvlam se Sariette Kuperus Nina van Heerden en Milde Cronjé in die derde plek. In die senior afdeling het Lydenburg se Tiaan Joubert en Fanie Erasmus derde geëindig.
Hieronder volg die top-5-spanne. Die grys gemerkte spanne dring deur na die nasionale finaal in Augustus 2021 wat by ATKV-Buffelspoort gehou word.
Baie geluk aan hierdie spanne!
Die nuwe onderwerpe vir die finaal sal aangekondig word sodra die uitslae van die laaste uitdunronde bekend gemaak word.