Drie-Ligbron-rugbyspanne-Sias-Jacobs
Dit is vir Ligbron Akademie vir Tegnologie, Ermelo, ‘n groot eer en seëning om drie van hul rugbyspanne in die Virseker Beker finale te hê. Die o/14A, Computer Connection, o/16A en die Calstar Group Eerstespan het almal hul onderskeie semifinale wedstryd gewen.
Die Computer Connection o/16A’s het op Donderdag, 8 Augustus, tuis teen ‘n sterk span van Hoërskool Die Anker te staan gekom. In ‘n wipplank-wedstryd wat enige kant toe kon gaan, het die Liggies gewys wie is baas en die wedstryd met ‘n telling van 29-20 beklink.
Die o/14A’s en Calstar Group Eerstespan het op Saterdag, 10 Augustus in Klerksdorp teen Hoërskool Wesvalia uitgedraf. Ligbron se spanne het weereens gewys waartoe hulle in staat is met oortuigende tellings. Die o/14A’s het hulle wedstryd met 48-12 beklink, terwyl die eerstespan hulle wedstryd met 65-17 gewen het.
Al-drie hierdie spanne sal eerskomende Saterdag, 17 Augustus, in Alberton by Hoërskool Marais Viljoen in die Virseker Beker finale speel. Die o/14A’s sal teen Hoërskool Secunda te staan kom, terwyl die o/16A’s en die eerstespan teen Hoërskool Pietersburg sal uitdraf.
Baie sterkte aan elke speller en afrigter. Hou Ligbron se naam hoog en gee net julle beste op die veld.