BVHS se 2020 hoofseun, Jan du Toit, deel vandag sy getuienis van hoop met ons. Sy woestynervaring. Ongeredigeer. Uit sy hart.
Vandag het iets met my gebeur wat my geraak het, soos ek nog nooit in my lewe geraak is nie. Die laaste paar weke het dit vir my gevoel asof alles net eenvoudig skeefloop. Dit wat moes gebeur het vir my as ‘n matriek hierdie jaar, het toe nooit gebeur nie.
Daar was soveel goed waaroor ek getwyfel het en wat aan my geknaag het oor die deel van die jaar wat verby is, en die deel wat nog kom. Ek kon net eenvoudig nie verstaan hoekom die Here my ‘n pad vol foute en teleurstellings laat stap het die jaar nie. Ek het baie gebid en gedink, ek het vir myself gesê dat die Here tog ‘n groter plan vir ons almal die jaar moet hê.
Met die rekordeksamen wat voorlê, kon ek voel hoe die Here met my werk. Ek het besef dat ek alles agter my moet sit, aan die Here moet vashou en dat ek net moet vertrou dat alles op die ou end goed sal uitdraai, maar kort-kort was daar maar weer ‘n slegte dag, en ek kon net eenvoudig nie ten volle op die Here vertrou nie. Al die slegte goed het bly knaag aan my, al wou ek dit hoe graag vergeet.
Vandag was een van daai dae. Ek het my ma-hulle vandag in die mall gekry. Ek het na my ma toe gestap en haar ‘n drukkie gegee wat ek al vir ‘n rukkie nodig gehad het. “Mamma ek’s nou moeg vir hierdie plek. Ek wil nou klaarmaak. Niks is meer lekker hier nie. Alles is ‘n teleurstelling, ek wil nou net klaarmaak.”
“Ai my kind!”
Wat meer kon sy gesê het? Sy het wel geweet dat haar seun altyd beter voel as sy maag vol is. Terwyl ons in Mugg & Bean sit, stap Mam Sotho daar verby. Ek spring op en gaan groet haar. Ons gesels lank. “Jy’s ‘n goeie kind ou Jan. Jy’s lekker windgat, maar ek like dit, jy gaan nog ver in die lewe kom”. Tipies Mam Sotho… Sweet and short…
Dit was een van vele komplimente wat net gaatjies van ‘n groot letsel kon toemaak.
En TOE gebeur iets wat verseker my keerpunt in die jaar is. ‘n Oom stap toe na my toe. Ek gaan nie sy naam noem nie, maar ek glo hy weet wie hy is. Ek ken die man van geen kant af nie. Hy’t my in my skoolklere gesien en aangeneem dat ek in Voortrekker is. Hy begin toe met my praat oor die rugby, en oor alles wat so sleg is agv die omstandighede waarin onsself bevind. En uit die bloute begin hy my vertel van hoe hy gevoel het as ‘n seun van my ouderdom en hoe die Here tot sy redding gekom het. En sonder om enige iets vir hom te sê terwyl hy die goed vir my vertel, sê hy vir my die volgende asof hy my al jare lank ken: “Jan alles gaan fine wees, die Here het ons pad vir ons klaar deur die woestyne van ons lewens geteer. Glo en vertrou net op Hom. Gee al jou worries vir die Here en sit dit agter jou. Fokus net op Hom, want Hy sal vir jou sorg.”
En toe gee hy vir my hierdie stukkie: Romeine 8:14-15 ; ‘Want almal wat hulle laat lei deur die Gees van God, hulle is God se kinders. Die Gees wat julle ontvang het, is nie ‘n Gees wat weer van julle slawe van vrees maak nie. Julle het die Gees van ware kindwees ontvang en deur hierdie Gees roep julle uit tot God: Abba, ons Vader.’
Ek sê toe: “Baie dankie oom, oom moet n mooi dag hê, dit beteken baie.”
Ek besef toe eers wat gebeur het toe ek die volgende hap van my burger vat. Die Here het my gebede verhoor. Hy het hierdie oom vir my gestuur vandag… En voor ek myself weer kon kry, is ek in trane. Ek wil hê dit moet stop, maar ek kan dit nie keer nie. Niemand in Mugg & Bean kan verstaan hoekom die kind so huil nie, maar hoe meer ek dit wil stop, hoe meer loop die trane. Ek staan huilend op, stap na die oom toe en gee hom ‘n druk. Ek het in daai oomblik nie ‘n bietjie omgegee wat enige iemand van my dink nie, want in daai oomblik, het ek besef hoe groot die Here is en dat Hy regtig my gebede verhoor het. Ek het nog nooit so gevoel nie. Ek het vir die eerste keer in my lewe gehuil omdat ek fisies kon voel hoe die Here my angeraak het, en dis ‘n gevoel wat ek nie kan beskryf nie.
In n oogwink was dit asof daar ‘n berg van my skouers af is. Dis asof ek al die slegte dinge net daar uitgehuil het. Dit was regtig onbeskryflik lekker om te weet dat die Here regtig na my geluister het en dat Hy my wil help.
Daai oom het uit die bloute uit gekom, sonder dat ek hom geken het.
Dit was amper asof die Here self met my gepraat het. Ek kry elke keer hoendervleis as ek daaraan dink. Die pad van die mall af koshuis toe was nie veel makliker nie. As ek myself weer kry, huil ek, my ma en my sussie van vrede en blydskap. Ek het dadelik na my vriende toe gegaan en hulle vertel wat gebeur het. Ek was net so opgewonde om vir almal te vertel dat die Here waarlik omsien na ons en hoe lekker ervaring dit vir my was om fisies Sy teenwoordigheid aan te voel…
Skielik is al my worries net weg. Kom wat wil, geen uitdaging gaan my van hier af weer onderkry hierdie jaar nie, want ek weet dat die Here by my is, en ek glo dit.
Ek wens ek kan daai oomblik toe ek besef wat gebeur het, weer en weer en weer herleef. Dis net eenvoudig so lekker….
Ek het wel my burger opgeëet…
Vir elke leerder daar buite wat ook voel soos ek gevoel het… En daar is baie.
Dit was dalk nie die jaar wat jy wou hê nie en dinge raak maar eentonig en vervelig. Ek weet, maar daar is nie n beter tyd om die Here te kies as nou nie. Gee al jou worries vir Hom, gaan rus by Sy voete, soek jou krag by Hom. Maak nie saak wat gebeur nie, hou jou fokus op Hom. As jy Hom gaan vertrou en ‘n verhouding met Hom gaan hê, gaan Hy jou gebede verhoor met oorvloed.
Terselfdertyd wil ek mense aanmoedig om nou meer as ooit opbouend teenoor mekaar te wees, mens weet nooit wanneer die Here jou gaan kies om iemand anders se gebede namens Hom te verhoor nie…
Psalm 37 en Romeine 8:12-16
-Jan