Hoofseun 2024. In ons reeks oor Hoofseun 2024, gesels Schools That Rock met die Hoofseun van Hoërskool DF Malan in Kaapstad, Dirk Hagen.
Dirk, vertel ons meer van jouself en jou leierskap. Wat is jou leierskap-ervaring?
My leierskapstyl is demokraties van aard. Ek glo daaraan om myself te vergewis van alle perspektiewe en standpunte voordat ek ’n regverdige en ingeligte besluit neem. John C. Maxwell se bekende woorde “Teamwork makes the dream work” neem ek ter harte. Dit doen ek deur my spanmaats goed te leer ken. Ek span hulle ook optimaal in om die skool te dien. Ek het ook vir drie jaar gedien op my skool se Raad van Leerders. Verder was en is ek en is nog steeds baie betrokke by kulturele-, akademiese- en sportaangeleenthede. Tans dien ek as Hoofseun en soos enige ander hoofseun sal beaam – ons bord is nie net vol nie, maar dit loop oor van verantwoordelikhede en verpligtinge.
Junior Stadsraad
In 2023, is ek gekies om deel te wees van die Stad Kaapstad se Junior Stadsraad. Die eer om as Junior Burgermeester te dien, het my hier te beurt geval. ‘n Ervaring wat ek nooit in my lewe sal vergeet nie. Gedurende my termyn het ek ’n NRO gestig naamlik Una Creserve Nos wat beteken “Kom ons groei saam”. Dit is gemik op “Fatherless children”. Ons het uitreike gedoen na die Durbanville Kinderhuis en werk nou saam met MES om aan hawelose mense hoop te gee. Ons werk ook saam met ander NRO’s byvoorbeeld The Fatherhood Foundation of South Africa wat bestuur word deur Zane Meas (beter bekend as Neville Meintjies van 7de Laan).
Ek is in 2023 ook genader om as gasspreker op te tree om die jeug te motiveer om ’n verskil te maak in ons land deur die GIBS (Gordon Institute of Business) se “Spirit of Youth Program”.
Aan die einde van 2023, is ek gekies as een van 50 jeugleiers om die 65ste Burger Jeugleierkonferensie in Kaapstad by te woon. By hierdie prestige konferensie, was ek bevoorreg om ander leiers van die toekoms te ontmoet.
As Hoofseun 2024, wat is jou mees belangrike waardes as leier?
Integriteit, regverdigheid, eerlikheid, empatie, standvastigheid en daadwerklike aksie. Alhoewel ek my skool se vriend-waardes (Verantwoordbaarheid, Respek, Integriteit, Empatie, Nederigheid, Diensbaarheid) ter harte neem, glo ek dat ‘n leier vertroue en sekuriteit moet inboesem by sy eweknieë. ‘n Leier moet lei met ‘n ysterhand en ‘n goue hart.
Wat is jou persoonlike doelwitte vir jou leierskapjaar? En vir Hoërskool DF Malan?
My doelwitte op persoonlike vlak is om myself te ontwikkel as ’n leier wat ’n verskil maak in die lewens van mense. In die proses wil ek myself nog beter leer ken. Ek wil myself beproef en alle uitdagings aanpak met alle mag en krag.
Vir my geliefde skool, wil ek versterk op terreine waar nog werk benodig word. DF is ‘n skool na aan my en baie ander se hart. Vergeet asseblief van die debakel rakende sy naam. DF is meer as sy naam! DF bestaan uit mense wat uitsonderlik is en uitstaan bo die res. Ons het ‘n nederige, onwrikbare hoof, toegewyde en intelligente onderwysers sowel as finansiële dames en sekretaresses wat ons rots is. DF het ook terreinpersoneel wie se hande vir niks verkeerd staan nie en sekuriteitswagte wat ’n oog gooi oor ons welsyn. Laaste, maar nie die minste, is ons almal leerders wat uniek is. Ons gees kan min ewenaar.
Om hierdie einste rede sal ek my alles gee om DF se naam hoog te hou en te verbeter. Ons noem DF die “skool waarvan ons droom” en ons visie is om eendag met trots en nostalgie terug te kyk na ons blou juweel ver aan die Suiderland.
Wat is jou sterkste leiers-eienskap?
My sterkste leiers-eienskap is waarskynlik my vermoë om te debateer, redevoering en te luister. Ek vind dit maklik om myself in ‘n ander se skoene te plaas en te empatiseer. Deur perspektiewe in te win, leer jy by ander en op die ou einde leef mens meer as een keer. Baie leiers maak die fout om te veel te sê, maar te min te luister. ʼn Leier kan onmoontlik al die antwoorde vir die wêreld se probleme hê. Luister na die mense wat jou omring en hulle sal jou grootste bate wees in jou strewe na uitnemendheid.
Dirk, hoe kry jy, as Hoofseun 2024, samewerking (commitment) van jou span?
Die belangrikste manier om samewerking te verseker is om ‘n gedeelde doel voor oë te hê. Jy, as leier, moet ‘n duidelike doelwit kan stel en die visie daarvan effektief kan kommunikeer aan jou span. Met ‘n gedeelde gevoel van verantwoordelikheid en samesyn kan mens berge versit. Jy moet ook jou span se sterk- en swakpunte ken. Dit help nie jy vra ’n vis om ’n boom uit te klim nie. Iemand sal veel eerder gretig saamwerk as hy/sy iets doen waarvan hy/sy hou of ’n passie voor het.
As jy enige honde-ras kon wees, watter ras sou jy wees? Hoekom?
Beslis ‘n Duitse Herdershond. Benewens die feit dat ek graag Duits praat, bewonder ek hulle selfvertroue, intelligensie, saggeaardheid en onwrikbare lojaliteit. Hierdie honde is ook baie veelsydig en laat mens veilig voel.
Hoe sal jy jou span lei deur verandering?
Ek glo ʼn span word gebou op vertroue. Tydens verandering het ek volle vertroue in die aanpasbaarheid en deursettingsvermoë van my span. Ek sal, soos ‘n goeie vriend en kollega, leiding bied aan my span, nie net in ʼn professionele hoedanigheid nie, maar emosioneel ook. Verder sal ek bystand bied in alle opsigte. Ek glo vas in die standpunt: “first in, last out” en neem dit ter harte deur altyd “on call” te wees.
Wat staan die meeste vir jou uit by jou skool?
Die ondersteuning en samesyn van DF staan beslis uit. DF glo daarin om ’n groot familie te wees en mekaar onvoorwaardelik te ondersteun. Wanneer jou klasmaats en onderwysers opdaag by die moeilikste dag in jou lewe (my Pa se begrafnis) in skoolklere, weet jy dat DF veel meer as net ʼn skool is. Dit is ʼn familie wat omgee!
Wie is die persoon na wie jy opsien? Hoekom?
Ek sien op na my Pa. Hy was ʼn waardegedrewe man met ʼn goeie morele kompas. Hy het sy alles gegee, maak nie saak wat hy aangepak het nie. Dit het weerspieël wanneer hy my hokkie of krieket wedstryde bygewoon het, in ons gesinslewe en in sy professionele beroep as ingenieur. Die fantastiese pa wat hy vir my was en die sukses wat hy behaal het in sy professionele lewe, inspireer en motiveer my om hom en myself trots te maak.
Wat was die hoogtepunt van jou skoolloopbaan tot dusver? Hoekom?
My hoogtepunt was om as Junior Burgemeester van die Stad Kaapstad verkies te word. Hierdie posisie het soveel deure vir my oopgemaak asook die geleentheid gegee om nuwe mense te ontmoet en ’n verskil te maak. Ek het nie net boesemvriende gemaak nie, maar my kop ’n paar keer hard gestamp en daaruit geleer. My termyn as burgemeester het my as mens verryk op baie vlakke in my lewe. Soos reeds genoem, kon ek my gemeenskap bystaan deur die NRO wat ek gestig het en die Stadsraad help met hul projekte. Ek het ook die geleentheid gehad om grootkoppe te ontmoet soos die Burgermeester, Geordin-Hill Lewis, wat ek nou vandag ag as een van my rolmodelle. Dit was inderdaad ʼn onvergeetlike ervaring.
Waaroor dagdroom jy?
Koffie en koeksisters. Dit is my “achilles heel”.
Hoe sal jy, as Hoofseun 2024, Graad 7 leerders oorreed om jou skool te oorweeg vanaf Graad 8?
Om ‘n Dee-Effer te wees, is veel meer as om elke dag die blou baadjie met die Protea embleem oor jou kop te trek en skool toe te gaan. Dit is vir ons ‘n tuiste, ‘n plek van onvervangbare kamerraadskap en aangename herinneringe. DF bied ook wedersydse ondersteuning en die strewe wat ons saam bind om die skool waarvan ons droom te wees.
Jy mag dalk vreemde dinge van ons skool gehoor het. Dalk is dit oor die naamsverandering of kontroversiële stellings wat die media gemaak het, maar soos die ou gesegde lui: hoë bome vang die meeste wind. DF gaan somtyds gebuk onder sensasiesoekers en joernaliste wat nie ‘n beter tydsverdryf het as om ‘n uitnemende skool te kritiseer nie. Dus, laat ons ons nie onder kry deur hierdie boehaaimakers nie.
DF Malan is n skool van vele leuses, naamlik Akademie is ons besigheid, Whakapapa, Ja DF, Ons vir jou Suid-Afrika. Maar ek wil veral klem plaas op die volgende een: Gees, Trots, Wen. In die woorde van DF se 2023 atlete: DF’s got the heart. Ons skool kweek skooltrots en by die jaarlikse MTBS en Interskole is die opgewondenheid tasbaar in die lug. Ons pak elke taak aan met geesdrif en ywer – maak nie saak wat dit van ons verlang word nie. Dee-Effers bars uit hul nate van trots en dit verenig ieder en elk in die blou baadjie. Met gees en trots, kom die wen natuurlik. Ons wen met oormag, met goeie sportmansgees en respek. Wie sal dan nie deel wil wees van DF se bloubloed familie nie?
In watter rigting wil jy studeer na skool? By watter Universiteit?
Ek sal graag BRek LLB wil studeer aan die Universiteit van Stellenbosch. Ek vind aanklank by beide die velde en sal graag my studies in 2024 wil begin. Die Universiteit Stellenbosch is my eerste keuse aangesien albei my ouers op Maties deur die meule is.
Hoe sal jou vriende jou beskryf?
“Dirk is een van die hardwerkendste mense wat ek ken. Hy pak nuwe take aan met passie en hy is toegewyd om sy pligte na te kom. Dirk het ‘n liefde vir mense, wat sy opregtheid en lojaliteit ten toon stel. Hy is selfversekerd en hy sien elke nuwe dag as ‘n geleentheid raak om homself te verryk in elke aspek van sy lewe.” – Jan-Hendrik Oberholzer
Meer skolenuus: https://schoolsthatrock.co.za
Foto verskaf
Become a Sponsor








