Hoofmeisie 2023. Hoër Meisieskool Oranje se nuwe hoofmeisie was ook haar laerskool (Tjokkies) se hoofleier. Sy het ook vanjaar in akademie presteer. Miané is ook ‘n gereelde gesig in die top 10. Sy speel krieket vir die SA o.19-vrouespan en netbal vir die Vrystaat o.17’s.
Sy was vanjaar se O17A-netbalkaptein en was slegs 14 jaar oud toe sy in 2019 die Vrystaatse o.19-vrouekrieketspan aangevoer het.
Miané in haar eie woorde:
“Om Oranje se nuwe hoofmeisie te wees is ’n ongelooflike voorreg en groot eer. Ek en die VRL gaan ons alles vir Oranje gee en ons beste doen om haar net nog verder te laat vooruitgaan!
My doelwitte as hoofmeisie is om die skool en elke dogter te dien en te lei met ’n voorbeeld soos Jesus gelei het. Ek wil hê Oranje moet ’n tweede huis en veilige plek vir elkeen wees waar hulle kan lag, groei, val en opstaan en net hulself kan wees!
Oranje is ’n bakgat skool, want ons het bakgat tradisies, trots en gees. Ons het ook die mooiste pampoenrokke! In Oranje is Jesus die belangrikste “eend” en ons het die voorreg om Hom daagliks te ervaar.
Ek beskou myself as iemand wat graag glimlag en vrae vra. Ek hou baie van lag!
Die toekoms
Oor die toekoms is ek optimisties, want in Oranje ken ons net een rigting en dis Vooruit! Ons, as trotse eendjies, sal hande vat in die sonskyndae, maar ook in die storms en op ons Herder – wat in elke opsig voorsien – vertrou!
My droom is om eendag ’n verskil te maak daar waar ek gaan! Ek wil daagliks voluit lewe om eendag, as ek op die ouetehuis se stoep sit, toegerus wees om die beste stories en wyshede van die lewe met my kleinkinders te kan deel!
In my vrye tyd spandeer ek tyd deur saam met my gesin of vriende. Ek hou van lees, musiek luister en om met ons honde te gaan stap, asook al die lekker plaasaktiwiteite.
Wat my groot vreugde verskaf is wanneer ons die kreet uit volle bors skree, geesbou-periodes of selfs as ek net saam met my vriendinne dans en sing asof niemand kyk nie.
Min mense weet dat ek in die aande nie sonder my “blankie” aan die slaap kan raak nie.”

Meer skolenuus: https://schoolsthatrock.co.za
Foto’ verskaf
Become a Sponsor








