Jimmy Stonehouse.
Dit was vir die Erries ’n besondere voorreg om mnr Jimmy Stonehouse, asook lede van die Puma-afrigtingspan by EHS te verwelkom op Vrydag 22 Julie.
Hoërskool Ermelo is trots daarop dat mnr. Stonehouse, mnr. Corné Steenkamp, en mnr. MJ. Mentz almal oud-Erries is. Daar is ook ’n oud-Errie, naamlik Tapiwa Mafura, wat deel is van die Puma-span. Tapiwa het in 2014 gematrikuleer.
Jimmy Stonehouse begin sy laerskoolloopbaan in Laerskool JJ van der Merwe en daarna kies hy om ’n Errie te word. Hy word gekies om vir die destydse SuidOos-Transvaal uit te draf vir die Cravenweekspan.
Na skool studeer hy onderwys aan die Goudstadse Onderwyskollege en word daarna ’n Errie-onderwyser. Errie-rugby het baie baat gevind by mnr. Stonehouse se afrigtings- en rugbyvaardighede.
Beeldtrofee
Die jaar 2000 was ’n besondere jaar vir die Erries: die eerste rugbyspan wen die Beeldtrofee vir makroskole. Mnr. MJ Mentz en mnr. Corné Steenkamp het, as lede van die span, ook in dié oorwinning gedeel. Die vreugde-vure by die Erries het hoog gebrand toe die Erries vir Affies tydens die semi-finaal met die kous oor die kop huis toe gestuur het. Die finaal het plaasgevind teen HTS John Vorster en ook hier kon die Erries maklik seëvier met ’n uitstekende telling van 23-3.
Na sy onderwysloopbaan by die Erries, het Jimmy Stonehouse ook by Waterkloof skoolgehou en daarna by professionele afrigting betrokke geraak. Hy het begin bou aan die Puma-span en ’n wen-kultuur begin vestig. Sy droom het waar geword en sy span is vanjaar gekroon as Curriebeker-kampioen vir 2022. Wat ’n uitstaande prestasie!
Die Erries het bankvas agter die Pumas gestaan. Van Jimmy Stonehouse se oud-kollegas onthou hom as ’n passievolle afrigter wat baie gesteld was daarop dat die spelers ware “gentlemen” moes wees en gabalanseerd moes ontwikkel. Al die spelers moes ook gaan vir koor-oudisies.
Baie onthou steeds die hoofrol wat mnr. Stonehouse in “Fiddler on the roof”, ’n musiekblyspel wat deur die Erries opgevoer is, gespeel het. “If I were a rich man” sal altyd baie aangename herinneringe by elke Errie oproep.
EHS is trots daarop dat mnr. Stonehouse steeds ’n Errie is en altyd sal bly.
Meer skolenuus: https://schoolsthatrock.co.za
Foto’s verskaf