Oudste lewende Erries. “The best classroom in the world is at the feet of an elderly person.” Die hoof van Hoërskool Ermelo, Meneer Pieter Grobler, het die waarheid in die woorde van Andy Rooney opnuut besef toe hy onlangs besoeke gaan aflê het by die twee oudste lewende Erries.
Tannie Ella van der Merwe (née Maritz) is nou 93 jaar oud en het in 1945 aan EHS gematrikuleer. Die destydse skoolhoof, meneer van Dyk, het ‘n besondere groot impak op tannie Ella gemaak, as mens, maar veral as geskiedenis-onderwyser. “Hy het geskiedens soos ‘n storie laat klink en almal het aan sy lippe gehang. Wanneer tannie Ella vertel van die volkspele en korfbal waaraan sy deelgeneem het, is dit die herinnering aan volkspele wat haar met heimwee laat glimlag.
Ten spyte daarvan dat die lewe se draaie haar uit Ermelo geneem het, bly sy in haar hart ‘n Errie en was veral oorstelp van vreugde toe sy die alombekende streepbaadjie sien wat meneer Grobler met trots gedra het.
Hoofmeisie
Die hoofmeisie van 1945, tannie Mara Mentz (née Holl) het uit die staanspoor opgewonde staaltjies vertel van haar tyd by die Erries. Tannie Mara vertel dat die voorheen vermelde hoof, meneer van Dyk, deur die leerders en personeel na verwys is as “Pappa van Dyk.” Dit op sig self spreek boekdele van sy menswees en die impak wat hy op die leerders gehad het. Sy vertel dat daar destyds nie iets soos Top tien was nie en dat die druk om te presteer, nie bestaan het nie. Sy noem ook die korfbal, die lékker van die volkspele en van haar pligte as hoofmeisie waar sy as klankbond gedien het tussen die leerders en die personeel.
Haar agting wat sy vir haar onderwysers gehad het en steeds het vir die wat in die professie staan, is noemenswaardig. Sy het veral respek vir meneer Boetie Roux, haar Afrikaans-onderwyser wat ‘n impak gehad het op haar en die woorde van haart Engelse onderwyseres, juffrou Jenny de Beer, wat sy steeds vandag gebruik as riglyn in haar lewe: “If a thing is wrth doing it worth doing well.”
Hulle het albei hul dank uitgespreek oor die aandenkings van die skool wat meneer Grobler aan hulle oorhandig het. lets besonders wat opmerklik is van albei hierdie kosbare besoeke, is dat tannie Ella en tannie Mara albei steeds verwys na Hoërskool Ermelo as “ONS SKOOL.”
“Ons het jou lief ou Ermelo, ons sal jou nooit vergeet. Hy is en bly die skool vir my.”
Meer skolenuus: https://schoolsthatrock.co.za
Foto’s verskaf