Hokkie Kapteins. In ons reeks oor sport kapteins, gesels Schools That Rock vandag met Reuben Homann. Reuben is die kaptein van Langenhoven Gimnasium in Oudtshoorn se 1ste seuns hokkiespan. Hy teken vandag die vyf-en-dertigste doel aan in ons reeks oor Hokkie Kapteins van hoërskole in Suid-Afrika.
“Ek het eintlik laat begin hokkie speel. Ek het eers begin toe ek 13 jaar oud was. Hokkie is op hierdie stadium ‘n groot deel van my roetine. Dit is iets wat ek uitleef en beslis een van my ‘coping mechanisms’. Alhoewel ek mal was oor rugby, was dié lyf te klein gewees en dit was ’n groot deel waarom ek eerder met hokkie aangegaan het.
My gunsteling professionele hokkiespeler is Thijs van Dam. Hy het ’n ‘drag flick’ wat skrik vir niks en hy doen dit wat hy geniet vir ’n lewe. Sy meisie is ook baie mooi.
Die posisie wat ek tans speel is ‘centre-link’. Toe ek begin speel het, het ek begin op ‘centre forward’ en deur al die posisies gegaan tot en met nou. Op hierdie stadium moet jy enige posisie kan speel waar Mnr. Schultz jou sit.
Ek is aan die die begin van hierdie jaar vir die eerste keer as hokkie kaptein verkies. Ek beskou die grootste taak van ‘n hokkie kaptein om tydens oefening seker te maak dat die seuns hokkie speel omdat hulle hier wil wees. Verder ook dat ons die beste daarvan gaan maak, nie vir onsself nie, maar vir die ouens om jou.
Oefening
Uitsluitend eksamentyd, oefen ons vier keer ’n week. Drie van die vier dae op die veld en die ander dag in die gimnasium. Ek draf meestal vroeg-oggend deur die week voor skool en doen liggaamsgewig-oefeninge volgens ’n vaste program.
Ek glo dat die belangrikste kwaliteit vir my as hokkie kaptein, is nederigheid op en van die veld af. Dit maak nie saak hoe goed jy is nie of wat jy kan doen nie, maar om nederig te wees is dit was jou terug aarde toe bring. Dit sê ook vir jou daar is nog baie om aan te werk.
My sleutel tot sukses op die hokkieveld is om te visualiseer, behou jou dissipline en kruip onder die opponente se velle in met elke kans wat jy kan kry sonder om ongeskik te wees.
Die wapen op my bors, my span en my verlede dien as my motivering voordat ek opdraf op die hokkieveld. Dit werk nogals.
Ons eerste wedstryd van die seisoen hierdie jaar was teen Hoërskool Tygerberg. Daardie dag het ons hele span met ’n ander vuur binne ons gespeel en met 10-0 gewen. Dit was die perfekte manier om die seisoen af te skop. Ek het ook vir my ’n seniorbal-kaartjie los gespeel toe ek 6 doele aangeteken het. Dit was my lekkerste wedstryd van my loopbaan.
Slegste wedstryd
Die wedstryd wat ek nie graag wil onthou nie, was teen Hoërskool Generaal Hertzog van Emalaheni. Dit was in die uitspeelrondtes by die Noord-Suid derby by HTS Drostdy. Ons het die eerste vyf minute van die wedstryd baie goed gespeel, maar ek het geval en my skouer erg ontwrig. Dit was maklik die slegste ervaring wat ek al ooit gehad het. Ek het geleer daaruit om op jou voete te bly as jy hokkie speel alhoewel ek dit nie juis altyd toepas nie.
As hokkie kaptein hanteer ek druk op die hokkieveld deur myself te herinner dat die opponente ook net mense is, sowel as vir wie ek speel en vir wat ek speel. Selfvertroue in dit wat jy doen is al wat jy nodig het.
Ek kan nie te veel sê van hoe ek my span motiveer nie, maar die span weet elke liewe keer voordat ons begin speel wat ons “gameplan” is. Tydens kwarte word daar ook gepraat met die ouens oor dit wat van toepassing is op die wedstryd.
My huidige top vyf prioriteite is: 1. Myself, 2. Akademie, 3. Vriende en familie, 4. Om elke dag beter te wees as die vorige dag en 5. Om te leer uit elke fout wat ek maak.
Raad aan beginners
My raad aan hokkie-beginners is ‘Trust the process’. Aan die begin gaan dit moeilik wees, maar vat my woord, sit een meer ekstra uur in as die ander kinders en ‘trust the process’. Dit gaan beter raak.
Ek kyk oor die algemeen gereeld na hokkie op die TV. Ek voel as jy die beste wil wees, moet jy vir die beste in die wêreld kyk. Dit gee jou daardie ekstra ‘edge’ wat jy nodig het in jou wedstryde.
Nee, ek het nog nie eintlik probeer om professionele spelers na te boots nie. Die naaste wat ek aan dit gekom het, is om een van hulle wedstryd-truie aan te trek by oefeninge, maar andersins doen ek my eie ding.
My korttermyn doelwit is dat ek baie graag klaar wil swot, my studies agter die rug kry, en my volwasse lewe begin. Ek wil ook in die JHL-league gaan hokkie speel.
Ek het ’n rowwe uiteensetting van wanneer ek tyd op wat moet spandeer. Gelukkig vir my was dit nog nooit regtig ’n probleem gewees om my verantwoordelikheid met hokkie saam met sosiale en akademiese verantwoordelikhede te hanteer nie. Alles balanseer mekaar goed uit.
JHL of IPT
Ek beplan beslis om met hokkie voort te gaan na skool. As alles goed loop, sal ek daarvan hou om op professionele vlak soos JHL of IPT te speel.
My enkele grootste hoogtepunt die afgelope vyf jaar, sal ek sê, was in graad 10 toe ek vir die eerste keer 1ste span behaal het nadat ek die vorige jaar o.16B gespeel het. Dit was ’n groot verrassing gewees en ek sal ook sê my matriekjaar as geheel sover, is ’n hoogtepunt. Daar was hier en daar ’n slaggat in die pad gewees maar alles loop sover die jaar heel goed.
My belangstellings buiten hokkie, is dat ek daarvan hou om te bak. Alhoewel ek nooit van my eie disse self eet nie. Ek weet net ek kan ’n ‘mean’ melktert maak.
Een van beskrywings wat my afrigter en spanmaats my as hokkie kaptein sal beskryf, is beslis: ongeluksvoël. Saam met dit kom hardegat omdat ek gewoonlik wil speel met beserings. En ek weet Tiaan beskryf my as Lanie Homann.
Die bekwaamhede waaroor ek as hokkie kaptein beskik, is seker visualisering. Ek glo ook hoe fikser jy is, hoe lekkerder raak die spel.
Het ek enige voorstelle gemaak wat werk? Wel, dit hang af teen wie ons speel die dag. Elke span teen wie ons speel het ’n ander formaat en daarom verander die wedstrydplanne, maar die seuns weet wat die ‘gameplan’ is voor elke ‘game’.
Louis Jonck
’n Hokkie speler waarna ek opkyk, is Louis Jonck. Hy was in 2020 ons hokkie kaptein. Hy het ’n groot invloed op my oefening gehad en ek het baie by hom geleer soos uithouvermoë en om aan te hou speel al lyk die kanse hoe skraal. Mnr Schultz is die afrigter waarna ek opkyk. Ek het nog altyd die wêreld se respek vir die meneer en ek haal my hoed af vir hom dat hy so geduldig is met ons seuns by oefening.
Daar is baie dinge in die lewe wat my opgewonde maak, maar ek sal sê dit maak my opgewonde as ek moeite in enigiets sit en ek sien dit werk uit of dit maak ander mense gelukkiger.
Die professionele hokkiespeler met wie ek graag wil koffie drink, is Steven Paulo.
Ek sal myself in een woord beskryf as lojaal.“
Meer skolenuus: https://schoolsthatrock.co.za
Foto verskaf