Hokkie Kapteins. In ons reeks oor sport kapteins, gesels Schools That Rock vandag met Emile Smit. Emile is die kaptein van Hoërskool Linden se 1ste seuns hokkiespan. Hy teken vandag die dertigste doel aan in ons reeks oor Hokkie Kapteins van hoërskole in Suid-Afrika.
“Ek het op die ouderdom van 9 begin hokkie speel. Die rede waarom ek van hokkie hou, is omdat dit ‘n lekker spansport is om saam met my vriende te speel. Ek hou ook van hokkie omdat dit ‘n sport is wat my fiks hou. Waarom ek eintlik besluit het om hokkie te speel, is om my asma te verbeter. Ek het egter vinnig agter gekom hoe lekker dit is hoe langer ek speel.
My gunsteling professionele hokkiespeler is Austin Smith. Hy het my gewys dat daar ‘n kans is dat hokkie my oorsee kan vat.
Die posisie wat ek tans speel, is regter “forward”. Ek het in my laerskool jare altyd linker ‘link’ gespeel omdat ek links is. Vir ‘n deel van hierdie jaar het ek ook ‘centre link’ gespeel.
Hierdie jaar is ek vir die eerste keer as hokkie kaptein vir Hoërskool Linden gekies. In 2017 was ek ook as die UJ o/13 span se kaptein aangewys. Ek sal sê my grootste taak as hokkie kaptein is om al my spanmaats kalm te hou. Verder is my taak om die spanlede positief te hou as ons agter raak teen ander spanne. Dit is egter moeilik om jou span se moed op te hou as jy self partykeer sukkel.
Ons eerste span oefen vier keer ‘n week, Maandae tot Donderdae, tydens die hokkie seisoen. Ek het nie tans my eie oefen program nie.
Bekwame hokkie speler
‘n Bekwame hokkie speler moet defnintief fiks wees, maar dit geld eintlik vir enige sportsoort. Verder moet jy as hokkiespeler en hokkie kaptein, in my opinie, altyd ‘n goeie gesindheid hê, nederig bly en die beste in jou spanmaats uitbring deur jou gesindheid.
My sleutel tot sukses op die hokkieveld is dat ek probeer om altyd die eerste aangee wat ek ontvang en weer uitstuur, te laat tel vir iets. Ek voel dis die klein dinge wat ‘n hokkie speler suksesvol maak, nie die “flashy” dinge nie
Elke keer wanneer ek op die hokkieveld stap vir ‘n wedstryd probeer ek om nie my vriende teleur te stel wat saam met my op die veld stap nie.
Die lekkerste wedstryd wat ek ooit gespeel het, was teen Hoërskool Randburg in 2021. Ons het hulle 7 – 1 gewen. Ek het ook gehelp deur ‘n doel aan te teken tydens die laaste kwart van die wedstryd. Dit was lekker om ons Derby wedstryd so ver te kon wen!
Curro Aurora
Die wedstryd wat ek gou wil vergeet, was ‘n wedstryd hierdie jaar teen Curro Aurora. Ons was 1 – 0 voor teen die eerste halfte, maar het die wedstryd verloor omdat ons voor op die wa was. Ek self voel verantwoordelik vir een van die doele wat hulle aangeteken het teen ons.
Die manier hoe ek druk hanteer tydens wedstryde, is deur altyd vir myself te sê om nie te duik vir die bal nie, want ek doen dit gereeld as ek onder druk is. Verder pla druk my nie veel nie, maar ek kan altyd staatmaak op my spanmaats om my kalm en rustig te hou as ek die dag onder te veel druk sou wees.
Ons is ‘n baie Christelike span, en doen als in die naam van die Here. Ek motiveer my span deur te probeer om almal altyd op bou, veral as ek kan sien dat hulle dalk gesukkel het tydens ‘n stadium van die wedstryd. Eerder as hom hulle af te kraak, gee ek vir hulle opbouende kritiek.
My huidige top 5 prioriteite in die lewe:
- Doen goed op skool sodat ek kan presreer in die toekoms.
- Probeer vriendelik wees met almal wat ek ontmoet.
- Sorg vir my medemens en vriende.
- Ek probeer altyd om die positiewe in ‘n situasie te vind, nie net vir myself nie, maar vir almal, want dis nie lekker om pessimisties deur die lewe te gaan nie.
- Om myself te omring met vriende wat my as mens verbeter sodat ek in ruil daarvoor, dieselfde kan doen vir hulle.
Beginners
My raad aan beginners in hokkie is om jou oog op die bal te hou. Dis seker die belangrikste, en speel altyd saam met jou span.
Nee, ek kyk nie gereeld hokkie op TV nie. Hoewel dit my interesseer, kyk ek eerlikwaar eerder F1 grand prix, wat ‘n groot belangstelling vir my is.
Ek probeer nie om professionele hokkie spelers na te boots nie, omdat ek probeer om eg aan my eie manier hokkie te speel. Ek hou van die manier hoe ek speel, alhoewel dit nie perfek is nie.
Op die oomblik is my doelwit om ons skool se naam hoog te hou. Ek wil ook graag deelneem aan die Noordvaal toernooi, en ons persoonlike beste van vyfde plek te verbeter.
Hoe hanteer ek my verantwoordelikhede by hokkie saam met sosiale en akademiese verantwoordelikhede? Wel, om eerlik te wees vat hokkie baie van my tyd op. Dis eintlik maar moeilik om alles anders in te pas. Ek het steeds baie tyd vir my vriende en familie, en ek is geëerd dat baie van hulle my wedstryde kom kyk. Verder is ‘n groot hoeveelheid van my spanmaats my persoonlike vriende.
Na skool sal ek graag vir die universiteit wil hokkie speel.
Grootste hoogtepunt
My grootste hoogtepunt die afgelope vyf jaar, is dat my span hierdie jaar die Eitken B-afdeling gewen het. Ek is ontsettend trots op elkeen van die manne wat saam met my gespeel het.
Ja, ek het wel ander belangstellings buiten hokkie. Voorheen het ek rugby gespeel totdat ek my arm gebreek het. Ek swem ook en doen naellope vir die skool. Ek speel ook graag videospeletjies saam met my vriende. Nog iets waarvan ek hou, is ‘skateboarding’ en ‘longboarding.’
Ek is seker my afrigter en spanmaats sal my beskryf as die ou met die grootste mond en ‘n grapjas. Dit beteken wel nie dat ek nie sake ernstig opvat nie.
Die bekwaamhede waaroor ek as goeie speler en hokkiekaptein beskik, is dat ek baie vinnig is op en met die bal, en ek voel ek kan die spel van die wedstryd goed lees. Ek gaan definitief moet werk aan my fiksheid.
Ek beskou my graad 7 klub-afrigter defnitief as my grootste rolmodel. Hy het my ondersteun deur die tyd wat ek met hom spandeer het en ek ag hom as ‘n persoon waarna ek kan opkyk.
Ek sal sê die week wat ek uitvind dat ons hokkie wedstryde speel, maak my altyd baie opgewonde. Verder ook die tyd wat ek met my span spandeer net voor ons ‘n wedstryd speel.
Die professionele hokkiespeler met wie ek graag sal wil koffie drink, is met Austin Smith.
Ek sal myself in een woord beskryf as passievol.“
Meer skolenuus: https://schoolsthatrock.co.za
Foto verskaf