Netbal Kapteins. In ons reeks oor sport kapteins, gesels Schools That Rock vandag met Ané Fourie. Ané is die kaptein van Hoërskool Linden, Randburg, se 1ste netbalspan. Ané teken vandag die sesde doel aan in ons nuwe reeks oor Netbal Kapteins van hoërskole in Suid-Afrika.
“Ek het op die ouderdom van ses reeds met ‘Net-Girlies’ begin en vandat ek ‘n bal kon vashou het jy my nooit sonder ‘n bal in my hande gesien nie.
Netbal is my groot passie en groot liefde. Geen ander sportsoort laat die adrenalien so deur my are vloei soos netbal nie. Jy kan as ‘n individu presteer maar ook as ‘n span. Ek neem ook aan atletiek deel want dit help met fiksheid vir die netbal-seisoen. Toe ek jonger was het ek ook tennis en hokkie gespeel, maar netbal het geseëvier. My gunsteling posisie is verdedigende vleuel maar ek speel tans Senter vir my skool.
Ek was vir die eerste keer gekies as netbal kaptein in 2017. Daarna is ek in 2020 en weer hierdie jaar gekies as kaptein van Linden se 1ste netbalspan.
Ons span oefen drie dae per week. Dan probeer ek nog twee ekstra oefensessies op my eie inkry. Ek hou daarvan om trappe by Westcliff te gaan doen. In totaal doen ek sowat 1000 trappe per oefen sessie.
Gautengspan
Die wedstryd wat ek die meeste gestres het was In 2019. Ek het vir die Gauteng-span uitgedraf in die finaal teen Westelike Provinsie om uit te speel vir goud. Toe die eindfluitjie blaas was ons gelykop en moes ons ‘n verdere 6 minute speel. Ons het toe met 3 punte gewen!
My korttermyn doelwit is om ‘n suksesvolle netbal seisoen in my matriekjaar te hê. Ek wil ook hard werk aan my akademie en ek wil baie graag volgende jaar by PUKKE gaan studeer.
My top prioriteite op hierdie stadium is: (1) Akademie, (2) Netbal, (3) Familie en (4) Vriendskappe.
Ek beplan om baie beslis na skool voort te gaan met netbal. Ek sal graag volgende jaar in my eerste jaar vir PUKKE se netbalspan wil speel. My groot droom is om eendag in Australia te gaan netbal speel.
Ja, ek het ander belanstellings. Ek speel in my vrye tyd dromme as ek nie oefen of netbal speel nie.
My sterk punte, wat my laat glo dat ek ‘n goeie netbalspeler is – ek is doelgerig, ek oefen hard en ek glo dat ek die vrugte sal pluk van my harde werk.
Success is not final
As kaptein motiveer ek my span gereeld met motiverings boodskappe soos : “Success is not final. Failure is not fatal. It is the courage to continue that counts.”
My rolmodel is my afrigter. Ek kyk baie op na haar. Sy motiveer my om aan te hou hard werk en nooit te gaan lê nie.
Ek dink die grootste uitdagings van die meeste deelnemers aan sport vandag is dat die kompetisie te groot is om op ‘n nasionale vlak span te kan kry.
Ek bestuur jy my sport-, akademiese en ander verpligtinge as volg: ek bestuur my tyd so dat ek akademie en sport in my daaglikste roetine kan inpas asook sosiaal en ook genoeg tyd het om te kan rus.
My grootste netbal-nagmerrie tydens ‘n wedstryd is dat almal as ‘n span moet saamwerk en dat ons mekaar moet aanhou motiveer en op mekaar se positiewe punte moet bly fokus. Ek glo dat my positiwiteit sal afvryf op my span.
Hoogtepunt
Die grootste hoogtepunte wat ek al beleef het in netbal as speler en as kaptein was toe ek in 2019 vir die Gautengspan gespeel het. Met ons eerste tuis-wedstryd het die leerders van my skool ‘n erewag gevorm waardeur ons as eerstespan gehardloop het. ‘n Ander hoogtepunt was om na twee jaar weer te kan deelneem aan ‘n spansport na “lockdown”.
Die manier wat ons gebruik om die span voor elke wedstryd te motiveer, is om na ‘n motiverings-boodskap en musiek te luister. Dit help om almal sielkundig voor te berei vir die wedstryd.
My spanlede en afrigter beskryf my as iemand wat passievol is oor netbal en wat ‘n persoonlikheids-verandering ondergaan wanneer ek op die baan is.
Ek beskou ‘n bekwame afrigter as iemand wat die span ondersteun en motiveer.
Dit wat my die gelukkigste maak, is om ‘n nuwe paar netbal tekkies te kan gaan koop net voordat die netbal-seisoen begin.
Ek sal baie graag saam met Shadine van der Merwe wil gaan koffie drink en oor netbal gesels. Sy is vir my ‘n groot inspirasie.
Een woord om myself te beskryf: Betroubaar.
Meer skolenuus: https://schoolsthatrock.co.za
Foto verskaf