ANHS Grow Toernooi. Hoërskool Aliwal-Noord se Eerste Rugbyspan het ‘n toer onderneem na die Grow Toernooi in Jeffreysbaai vanaf 24 tot 28 Maart.
Die Buffels, soos die ANHS span tradisioneel bekend staan, het hul teenstanders by die Grow Toernooi behoorlik gegaffel. Hulle het in twee van hul drie wedstryde as oorwinnaars van die veld gestap. Alhoewel die afrigters beslis sal werk maak van die 54 punte wat die Buffels afgestaan het, teken hulle 106 punte aan tydens die toernooi. Sestien skitter-drieë is gedruk!
ANHS het tydens die Grow Toernooi met 40-0 teen Hoërskool Sand du Plessis gewen. Die Buffels het vasgeval met 17-33 teen Lowville Tigers. Dit is `n klubspan wat op rugby-ontwikkeling fokus en spelers uit verskeie skole insluit. Die Buffels lewer pragspel op die laaste dag en wen met 49-21 teen Hoërskool Hangklip.
Drieë is gedruk deur: Nathan Badenhorst, Buhle Moyake (6), Liyabona Sigojo, Hlumelo Sicikho (3), Buhle Mokgozi (2), Janco Labuscagnie en Marko Langenhoven (2). Marco was ook met sewe doelskoppe suksesvol. Weens spesiale toernooi reëls is daar nie met alle drieë pale toe geskop nie.
Drieë
Dit verg baie van die opponente om vir Buhle Moyake in die middelveld in toom te hou. Baie van die drieë is afgerond na puik samespel. Die afrigters mnre. CJ Holtzhausen en Charles van Rooyen kan baie optimisties voel oor die seisoen wat voorlê.
Kort voor hul vertrek op dié toer, in `n wedstryd teen Hoërskool Fichardtpark, het die Buffels gewys dat hulle teen groter skole kan meeding. In `n voorwedstryd op die Toyata Cheetahs Stadion het ANHS halftyd 14-12 voor. Ongelukkig het hulle die wedstryd 36-14 verloor. Beide spanne het kookwater rugby gespeel.
ANHS is baie trots op hul netbal- en hokkiespanne se puik uitslae op hul toere. Saam hou die spanne die Alie-naam hoog.
Laastens wil die span baie dankie sê vir hul ondersteuners wat met `n bus vol passievolle toeskouers gaan ondersteun het.
Meer skolenuus: https://schoolsthatrock.co.za
https://www.facebook.com/AliesANHS/
Foto’s verskaf