Easter Hockey Tournament. Die eerste hokkiespanne van Hoërskool Strand was vanjaar weer een van die skole wat aan die Belgotex Fairmont Easter Hockey Tournament in Kaapstad deelgeneem het.
Vier en twintig spanne het aan die gesogte Belgotex Fairmont Easter Hockey Tournament toernooi deelgeneem. Sommige was van so ver as Krugersdorp, Oos-Londen, Betlehem en Windhoek. Die stryd is in vier verskillende groepe uitgespook. Dit was goed om teen onbekende spanne mee te ding en jouself aan nuwe spelpatrone te meet. Dit was ook ‘n voorreg om aan hierdie groot toernooi deel te neem. Die organisasie was puik en die kompetisie van ‘n baie hoë standaard.
Elke span by die Easter Hockey Tournament het sewe wedstryde tydens die vier dae gespeel. Fiksheid en uithouvermoë is tot die uiterste beproef. Die seuns se kompetisie het die volgende skole ingesluit: Hoërskool Charlie Hofmeyr, Hoërskool DF Malan en Bishops Diocesan College B. Ander skole het Hudson Park High School (Oos-Londen), Hoërskool Monument (Krugersdorp), Pinelands High School en Milnerton High School ingesluit.
Deelnemende skole
Die meisies het teen die volgende spanne gespeel: Pearson High School (Port Elizabeth), Hoërskool Stellenberg, Hoërskool Hermanus, ES Academy, Pinelands High School, Langa High School en Worcester Gimnasium. Na elke wedstryd is daar ‘n speler van die wedstryd aangewys. Dié eer het by die Langa en Worcester Gimnasium wedstryde vir Antoinette Bredenkamp en Jeanél de Klerk te beurt geval.
Dit was ‘n wonderlike spanbougeleentheid vir die twee spanne. Verder was dit ‘n geleentheid vir die eerstespan-afrigters om die nodige skaafwerk te doen voor die ligawedstryde in die tweede kwartaal begin. Alhoewel die tellings nie in Strand se guns was nie, het die spelers die toernooi baie geniet. Elke wedstryd was ‘n leerskool.
Marais Westraat van Hoërskool Strand is uit 24 skole by die Easter Hockey Tournament as een van die beste spelers gekies. Hy gaan met Travel Sport na Nederland toer.
Meer skolenuus: https://schoolsthatrock.co.za