1Ste X1 Krieket Kapteins. Schools That Rock gesels verder in hul reeks oor skole se 1ste X1 Krieket Kapteins. Verskeie skole in Suid-Afrika se 1ste span Krieket-kapteins neem deel aan ons gewilde reeks. Ons dertiende bal word vandag geboul na Lourens van Niekerk, kaptein van Hoërskool Jim Fouché in Bloemfontein, se 1ste krieket span.
“Ek het op die ouderdom van ses jaar begin krieket speel. Van al die sportsoorte wat ek deur my skoolloopbaan uitgetoets het, was krieket my grootste vreugde. Dit was die sportsoort wat my die meeste lewenslesse kon leer. Ek is in my graad 11 jaar die eerste keer as kaptein aangewys.
Die grootste en lekkerste taak vir my as kaptein is om die manne te motiveer. Ek glo die gees van die span word deur die kaptein bepaal. Daarom wil ek nie net die manne krieket “skills” leer nie, maar ook lewenslesse soos deursettingsvermoë en dankbaarheid. Ons eerste span oefen vier keer per week.
Toe ek my eerste krieket wedstryd gespeel het, was ek verward, maar opgewonde. Om in graad 1 met daardie plastiek kolf en tennisbal Mini-krieket te speel is vir seker opwindend, maar vir seker chaos ook!
Bekwaamhede waaroor ‘n goeie krieketspeler moet beskik? As jy nie ‘n “gentleman” is nie, moet jy maar ‘n ander sportsoort kies. Alle waardes van ‘n trotse JF-krieketspeler ontspring uit iemand wat homself ‘n gentleman kan noem. My sleutel tot sukses, sou ek sê dat, as jy daar wil wees, sal suiwer talent natuurlik kom. Sukses kom met wilskrag!
Trots JF-gees
Wat my inspireer elke keer wanneer ek op die veld stap vir ‘n wedstryd, is die trots JF-gees. Dit dryf my en die liefde vir my sport inspireer my.
My grootste krieketheld is Jacques Kallis.
Ek verkies boul bo kolf. My lekkerste wedstryd was ons wedstryd teen Welkom Gimnasium. Welkom Gim het tydens ‘n 50-beurt wedstryd ons hele span vir 60 lopies uitgeboul. Nou, enige iemand met ‘n bietjie kennis oor krieket sal weet dat dit ‘n power eerste probeerslag is. Maar hierdie wedstryd is my gunsteling aangesien die span die konsep van “It’s not over, until it’s over” verstaan het. Met groot inspanning en ongelooflik baie motivering, boul JF Welkom Gim vir 42 lopies uit! Hulle span was vir seker nie swak nie. Die getuienis van deursettingsvermoë het wel talent oorheers
My kolfbeurt wat my altyd sal bybly, was ons wedstryd teen Landboudal van Jacobsdal in 2019. In daardie wedstryd het ek my eerste ses vir die Jim Fouché se eerstespan behaal. My mees suksesvolle wedstryd was teen Grey Kollege. Ek het twee paaltjies geneem in een boulbeurt sonder om een lopie af te staan.
Om van druk op die veld ontslae te raak, motiveer ek die spelers. Wanneer ek ‘n moeilike wedstryd agter die rug het, vra ek raad en hulp by my krieketcoach, Thiardt Ingram. Hy dien as ‘n groot inspirasie vir my en die span.
Raad aan beginners
My raad aan beginners? Dit klink seker soos ‘n cliché, maar as jy die sport geniet en daar wil wees, sal jy talent opvang.
As ek iemand in die span uitsonder as die span se ‘nar’, sou ek sê dit is Zander Strauss. Hy beskik oor ‘n ander bynaam wat seker nie van pas is om hier te deel nie, maar dit getuig waarom hy ‘n ware nar is.
Die persoon in ons span wat my die meeste verras tydens wedstryde, is Arnaud Marais. Hy het ‘n manier om 6 paaltjies te vat of 100 lopies te slaan die dag as hy lus het.
Wanneer ek terugdink aan die bouler wat ek die meeste gevrees het, is Paul Shwarts. Hy was in matriek twee jaar gelede en het ook vir ons eerstespan gespeel. Hy kon maklik ‘n bal teen 140 km/h boul en die kolwer met ‘n nat broek agterlaat.
Ons het nie ‘n “pre-match” ritueel nie, maar ‘n afhanklikheid dat die span bid. Ons besef dat ons nie die wedstryd sonder die Here se leiding kan speel nie.
Ek kyk gereeld na wedstryde op televisie, want dit dien as ontspanning en vermaaklikheid. In my vrye tyd speel ek speel graag “backyard krieket” saam met my vriende.
As ek myself in een woord moet beskryf is dit leier.“
Foto’s verskaf
Meer skolenuus: https://schoolsthatrock.co.za