Krieket-kapteins. Schools That Rock gesels die volgende aantal weke met verskeie skole in Suid-Afrika se 1ste span Krieket-kapteins. Ons vyfde bal word geboul aan Antonio Cavaleiro, kaptein van Bethlehem Voortrekker Hoërskool se 1ste krieketspan.
“My eerste kennismaking met krieket was in graad1. Dit is ‘n sportsoort wat ek baie geniet. Ek en my broer het van kleins-af altyd in die agtertuin krieket gespeel. Aan die begin het ek egter ‘n probleem ondervind. Ek het sommer my kop maklik verloor na ‘n slegte wedstryd.
My eerste ondervinding van krieket-kaptein was vir ons o.11 krieketspannetjie vir Laerskool Ladybrand. As kaptein van die span beskou ek my grootste taak om die span gemotiveerd te hou en om seker te maak elkeen speel tot die beste van sy vermoëns. Ons eerste span oefen drie dae per week.
Eerste krieket-wedstryd
Toe ek my eerste krieket-wedstryd gespeel het, was ek baie opgewonde, maar ek moet erken dat ek terselfdertyd ook maar baie senuweeagtig was! Sou jy my vra oor watter bekwaamhede ‘n goeie krieketspeler moet beskik, sal ek sê dat positiwiteit bo-aan my lys staan. Ek beskou die sleutel tot sukses op die krieketveld, harde oefening. Daarmee saam moet jy natuurlik ook die sport geniet.
Ek moet erken dat my hele span my inspireer elke keer wanneer ons vir ‘n wedstryd op die veld stap. Terloops, my grootste krieketheld is AB de Villiers.
Ek het nie ‘n voorkeur wanneer ek moet kies tussen kolf en boul nie. Ek is gemaklik met beide. My grootste en lekkerste wedstryd was ons o.15 wedstryd teen Hoërskool Noord-Kaap. Ek het die wenlopies in die wedstryd geslaan wat ons deurgevat het na die finaal. Dít was great! My grootste kolfbeurt was egter die 0/15 Derby teen Hoërskool Witteberg. In daardie wedstryd het ek my eerste 100 lopies vir Voortrekker aangeteken.
Druk op krieketveld
Om druk op die krieketveld te hanteer is nie vir my ‘n probleem nie. Ek is baie rustig as dit by druk kom en bly gefokus. As ek raad kan gee aan beginners – gee jou alles en geniet dit! Wanneer ek ‘n moeilike wedstryd agter die rug het, sorteer ek dit gewoonlik met myself uit.
Die “nar” in ons span is Juan Theunisen. Elke span het maar sy persoon wat grappe maak en die gemoedere kalm hou. Ek kan nie ‘n persoon uitsonder wat my tydens wedstryde verras nie. Ek moet eerlikwaar sê dat die hele span my met elke wedstryd verras! As ek ‘n bouler moet uitsonder vir wie ek die meeste gevrees het, is dit Rowen Scholtz, my vorige spanmaat. Sjoe!
Ek geniet dit om na die pro’s op televisie te kyk. Ek leer baie daaruit! In my vrye tyd hou ek daarvan sosiaal saam my familie en vriende te verkeer.
As ek myself in een woord moet beskryf, is dit nederig.“
Foto verskaf
Meer skolenuus: https://schoolsthatrock.co.za
https://www.voortrekker.co.za/
Become a Sponsor








