Sokker. Die rektor van Paul Roos Gimnasium, mnr André van Staden en voorsitter van die beheerliggaam, mnr. Roelou Slabbert, verwelkom die aanstelling van mnr Edmund Pietersen as die eerste Hoof van Sokker by Paul Roos Gimnasium.
Edmund is al sedert 2016 op ‘n deeltyde basis betrokke as afrigter. Aanvanklik slegs van die o/14-span en vanaf 2016 het hy die o/19 A-span afgerig.
Die bekendmaking gaan gepaard met die betrokkenheid van Raats Family Vineyards en MveMve Raats as hoofborg van sokker. Volgens die eienaars, Bruwer Raats en Mzo Mvemve, is die twee handelsmerke sedert 2014 deel van PRG-sokker. Dit is ‘n voorreg om die langtermyn verhouding tot die volgende vlak te sien ontwikkel – veral in hierdie opwindende fase wat PRG-sokker betree.
Edmund het in Cloetesville grootgeword. Hy is ‘n oudskolier van Cloetesville Hoërskool. Hy het in graad 9 Boland en Wes-Kaap kleure ontvang en het in 2002 die eerste SA-skole sokkerspeler van die skool geword.
Edmund se potensiaal
Die voormalige Bafanaspeler, wyle Reginald Jantjes, het Edmund se potensiaal vroeg reeds raakgesien. Jantjes het Edmund genader om na skool in 2003 vir die UWK Sokkerakademie te speel. Tydens ‘n proefwedstryde vir AJAX, het internasionale talensoekers die kranige sokkerspeler genader. In 2005 verhuis hy na Amerika waar hy ’n studiebeurs kry om by Collegiate, Afdeling 1 vir Tiler Junior College te speel. Na ongeveer 4-jaar speel Edmund vir FC Dallas, een van die groot sokkerklubs in Amerika.
David Beckham
“My droom om teen die bestes sokkerspelers in die wêreld te speel het gouer gekom as wat ek verwag het. Ek het besef dat, as ek op daardie vlak wil deelneem, dit intense toewyding en harde werk sal verg. Dit het vrugte afgewerp en die hoogtepunt, soos seker vir enige plaaslike seun, was die blootstelling in Amerika. Ek is op meer as een geleentheid die kans gegun om teen David Beckham te speel. Beckham versinnebeeld die woord `sokkerinteligensie’ – sy talent en werksetiek het my ongelooflik gemotiveer om my beste te gee.”
Ongelukkig het ‘n liesbesering veroorsaak dat Edmund moes terugkeer na Suid-Afrika. Terug op plaaslike bodem het hy vir verskeie klubs gespeel. Hy het ook as kaptein opgetree waar Melano United, onder Edmund se leiding, die eerste divisie betree het.
Nadat Steenberg United vir die derde keer die tweede divisie wen en opgetrek word na die na die eerste divisie, word hy assistent-afrigter vir die 2020/21-seisoen.
Sokkerkultuur
Volgens Edmund is PRG-sokker sy “baba.” Dit is wonderlik om deel van die span te wees en te kon ervaar hoe sokker sedert 2014 by die skool ontwikkel het. Wat PRG se sokkerkultuur in ‘n ander liga plaas, is dat dit werklik gaan oor die persoon as ‘n geheel en nie net oor die atleet nie. Daar word op gereelde basis gekonsulteer met spelers om te bepaal hoe dit met hulle gaan. Hul akademiese prestasie is ook van kardinale belang. Waar nodig, sal die afrigtingspan uit hul pad gaan om ekstra klasse te reël vir leerders wat hulp benodig. Met die onlangse eksamen het ‘n oudskolier en voormalige eerstespansokkerspeler een van die huidige spelers bygestaan het.
PRG se sokkerspanne bestaan onderskeidelik uit twee o/15-, o/17- en o/19-spanne, 6 afrigters en 3 spanbestuurders. Volgens Luan van der Vyver, die eerstespanbestuurder, mik PRG-sokker om te groei, nie net in getalle nie, maar ook in kwaliteit van spelers en afrigters.
Groei
Paul Roos se sokker het oor die afgelope jare van krag tot krag gegaan. PRG het Grey Kollege vir drie agtereenvolgende jare gewen. Die aantal sokkerspanne het verdubbel. Selfs Covid kon nie die span se gees demp nie. Zoom opleiding- en fiksheidsessies het verseker dat die spelers in goeie vorm gebly het. PRG se Hagan Cupido en Connor De Vries is onderskeidelik vir die Stellenbosch FC-reserwespanne opgeroep. PRG se eerstespan het in 2021 tot die streekseindstryd van die Kay Motsepe-beker deurgedring. Vyf van PRG se spelers het hierdie jaar die gesogte FC Kaapstadbeker met Stellenbosch FC gewen. Connor de Vries, Cade Gordon, Joshua Bailey, Tyler Cicero en Joshua Gerber was ingesluit in die span.
Daar is opwindende nuwe projekte en programme vir PRG sokker in 2022. Ondermeer die junior sokkerakademie vir oudersdomsgroepe o/7, o/9, o/11 en o/13 seuns en mesies. Die akademie word by Paul Roos in die eerste kwartaal vanaf 2022 aangebied. Vir meer inligting kontak epietersen@paulroos.co.za.
Die moontlike insluiting van sokker in volgende jaar se Wildeklawertoernooi dien as verdere motivering vir die spelers om met toewyding hulle voorseisoen oefenskedule nougeset na te volg. Daar is dan ook planne vir PRG om gasheer te speel vir ‘n toernooi en selfs dalk in die nabye toekoms geleentheid te skep vir spelers om internasionaal mee te ding.
Fotokrediet: Jacques Vermooten