Oranje Hoofmeisie.
By Oranje word gesê leerders is eenders, maar anders. Die hoofmeisie vir 2022 eggo daardie woorde.
“By Oranje is elkeen uniek en kan jy wees wie jy is,” sê Ané Janse van Vuuren. Sy is verlede week as die nuwe hoofmeisie aangewys.
In 2017, as hoofmeisie van Oranje Primêr, het sy in ’n toespraak aan die gr. 1’s hulle daarin herinner om mekaar se uniekheid te respekteer.
“Ons moet onthou dat ons respek vir mekaar moet hê en nie lelik moet wees met maatjies wat nie dieselfde as jy is nie. Wees ’n goeie maatjie, gesels met almal, wees vriendelik met almal, help maatjies waar jy kan.
“Die Bybel sê doen aan ander wat jy aan jouself gedoen wil hê,” het sy toe gesê.
Leierseienskappe
Ané se leierseienskappe word ook op die hokkieveld raakgesien. Sy was vanjaar al die skool en die eerste span se hokkiekaptein. Ané sal dié rol volgende jaar weer vervul.
Sy speel reeds van haar gr. 8-jaar vir die eerstes. In 2019 was sy as die voorste o.16-speler in Suid-Afrika aangewys. Die SA Sport Schools-tydskrif het ook al van haar deugde kennis geneem en sy het onlangs op dié tydskrif se voorblad gepryk.
Ané het ook ’n talent in atletiek en was vanjaar as verspringer vir die Vrystaatspan gekies.
Sy is ook Huis Fischer se onderhoofhuisleidster gekies.
Ané in haar eie woorde:
“Ek is vasgeanker in my geloof en weet waar ek my krag en sterkte vandaan kry. Filippense. 4:13 sê: ‘Ek is tot alles in staat deur Hom wat my krag gee.’
“Ek is opreg, het ‘n sagte hart en ek verkies om die mooi in die lewe raak te sien. Ek voel die beste genesing is om te lag en daarom lag ek graag uit my maag uit.”
Lees meer oor Oranje:
Become a Sponsor








