Sentraal verjaar – 116 jaar. Hoërskool Sentraal van Bloemfontein het Vrydag sy 116e-verjaardag. Hulle het hul verjaardagviering met die kranslegging by Oom Lokomotief se borsbeeld en die sny van die verjaardagkoek begin.
Geskiedenis:
Die regeringspogings om die Afrikanerkind te verengels, lei tot die besluit om eie Christelik-nasionale skole in die lewe te roep Dit teenoor die suiwer Britse staatskole. Een van die skole wat uit hierdie versetbeweging ontstaan het, was Sentraal.
OOM LOKOMOTIEF
Op 11 September 1905 word die Vrije Christelike School gestig. Dit was onder die afdak van die Gereformeerde Kerk in Zastronstraat, Bloemfontein. Dit was ‘n nederige begin. 50 Leerders is deur D.F. du Toit (Oom Lokomotief), in hul moedertaal onderrig. Daar is veral klem gelê op vakke soos hout-, naald-, mandjies-, karton- en kleiwerk. Ook die handelsonderwys is bevorder. Die skool het geleidelik ontwikkel in die rigting van ‘n voorbereidende tegniese skool. Die leerdertal het so gegroei dat die kerkgebou en konsistorie te klein was om almal te huisves.
‘n Gebrek aan fondse het uitbreiding gestrem en die probleem het talle skole laat verkrummel. Die stigters het egter vasgebyt. In 1908, na ‘n onderwyswet verseker het dat die Hollandse taal naas Engels gelyke regte sou geniet, is toegegee dat die Vrije Christelike School in ‘n staatskool omskep kan word. Vanaf 1 Julie 1908 het die naam verander na die Voorbereidende Praktiese Skool. ‘n Sinkgebou is ook opgerig. Die st. 4- en 5-leerders is hier gehuisves. In 1912 het die leerdertal gegroei tot 163. Die skoolbestuur was onder voorsitterskap van ds. Willem Postma. Hulle het toegesien dat die Christelike en Afrikaanse karakter behoue bly. Na gereelde inspeksie was die Departement ingenome met die skool. Hulle het ook gemeld dat die kinders in die skool gelukkig was.
Naamsverandering
Met nog ‘n naamverandering sou dit tot 1930 as die Voorbereidende Tegniese skool bekend staan. In April 1916 is die skool se status verhoog tot middelbare skool. Dit kon leerders tot st.8 oplei. In dieselfde jaar het die getal gestyg tot 300 leerders. Ruimte en klaskamers was ‘n ernstige probleem. Daar is selfs van die Gereformeerde Kerk se pastorie gebruik gemaak. In 1912 is ‘n eie skoolgebou belowe. As gevolg van teenkanting en ‘n gesloer met bouplanne, is die eerste fase van die nuwe gebou in 1917 voltooi. Spoedig was die gebou te klein om die 560 leerders te huisves. Weer moes van bykomende lokale gebruik gemaak word.
Ook aandklasse is aangebied aan persone wat tegniese of handelsrigting hul loopbaan wou maak. Afrikaans as vak is ook in hierdie tyd ingevoer. In 1919 het die eerste vyf leerders die Junior Sertifikaat-eksamen met sukses afgelê. Voorts sou leerders die matrikulasie-eksamen, die OVS-Skooleindeksamen en ook die Hoër Taalbondeksamen gereeld met sukses aflê. Die skool het sy tegniese inslag begin verloor en die klem is na die gewone akademiese vakke verskuif. Aan die einde van 1922 was Sentraal ‘n Afrikaansmediumskool met 741 leerders.
EIE IDENTITEIT
In die jare wat sou volg, is die stigma van ‘armmanskool’ of ‘spoorwegskool’ vir goed uit die weg geruim. Daar is bewys gelewer dat deur bekwame toewyding die allerbeste kwaliteit uit die minderbevoorregte leerders gehaal kon word. Die Afrikanerkind is van sy minderwaardigheidskompleks gestroop en ware karakter, naam en identiteit is in hierdie jare nodig geag. Aan sy leerders moes die skool geken word. Die skool se akademiese prestasies was toe reeds landwyd bekend. Reeds in 1924 is die skool tot ‘n klas II Middelbare Skool verhef. Toe die eerste inlywing van die Voortrekkers deur die Eerste Minister, genl. JBM Hertzog, in 1931 waargeneem is, was die grootste meerderheid van Sentraal afkomstig. Leierskap is ook gekweek deur die instelling van ‘n leerderraad in 1926.
In die twintigerjare is aandag aan die skool se kleure, leuse en naam gegee. Op 22 November 1929 is finaal besluit om die naam te verander na Sentrale Hoërskool. Die laerskool het hieronder geval. Sentraal het in die moeilike oorlogsjare van 1939 – 1946 simbool van sy volk se swaarkry, stryd en oorwinning geword.
Vanaf Julie 1928 is die skool onder die beheer van die skoolraad geplaas. Daar sou nie aan die identiteit van die skool verander word nie. Die eerste jaarblad verskyn in 1930. Op die voorblad het die nuwe wapen en leuse gepryk. Werk en wen. Die Skoollied is in 1932 deur ‘n personeellid, FJ Eybers, geskryf. Dit is deur Mnr PJ Lemmer getoonset. Dieselfde skoollied word nog gereeld met saalperiodes geesdriftig deur die leerders gesing.
UITBREIDINGS
Beperkte klaskamerruimte en beknopte skoolgrond was spoedig weer ‘n knelpunt. In die loop van 1933 het die Provinsiale Administrasie begin om die hospitaalgebou in Andries Pretoriusstraat in klaskamers, ‘n personeelkamer, ‘n kantoor vir die hoof en ‘n saal te omskep. Die gebou was ver van die ideaal. Tog was dit ‘n groot verbetering. Deur die hulp en toedoen van die NG en Gereformeerde Kerk, is in 1933 begin om ‘n koshuis in een van die verpleegstertehuise in te rig.
Sedert 1932 is die skool tot ‘n klas I-skool opgegradeer. In 1938 is die hoër- en laerskool twee moderne skoolgeboue in die vooruitsig gestel. Tog was die 1 400 leerlinge van die twee skole in 1942 steeds ingehok. Daar was haas geen speelterrein nie en slegs een voetbalveld tot hul beskikking. Intussen is met die bou van ‘n swembad begin. Die seuns en onderwysers het fluks gehelp. Daar sou ook aandag aan die bou van ‘n dogterskoshuis geskenk word. Die nuwe skoolgebou is in 1944 betrek.
PRESTASIES
Aan die begin van 1945 was die skool die grootste Afrikaanse skool in die Vrystaat. Skitterende matriekuitslae het SENTRAAL se roem tot ver buite die grense van die Vrystaat laat strek. Aandag is ook aan koorsang, debatsvereniging, toneel en die kadetafdeling geskenk. Op sportgebied is mooi hoogtes bereik. Die akademiese werk was egter steeds die hoofdoel. Op hierdie prestasies is deur die jare voortgebou. In 1955 is die skoolgebou opgeknap. ‘n Nuwe seunskoshuis, EIE HAARD, is ook opgerig. In 1974 word ‘n spog-gimnastieksaal ingebruik geneem. Die swembad is ook tot Olimpiese standaard herbou.
NUWE BEDELING
Die stigting van die nuwe hoërskole in snelgroeiende woonbuurtes van die stad, het die leerdertal laat daal. Die groei van die skool het voor ‘n ernstige krisis te staan kom. Om dit te verhoed, is besluit om die skool vanaf die begin van 1981 na die skoolgebou van die Hoërskool Dan Pienaar te skuif. Hiermee het Sentraal voor ‘n nuwe bedeling te staan gekom. Aan die tradisies, geskiedenis, gees en karakter van hierdie skool sou dit weinig verskil maak – eerder verrykend inwerk. Sentraal bied steeds ‘n tuiste vir Afrikanerseun en –dogter. Hier kan hulle ‘n Christelike en nasionale opvoeding ontvang. Die voltooiing van die nuwe EIE HAARD was vir die Tralies ‘n heuglike gebeurtenis. Hierdie unieke koshuiskompleks is iets waarop elke Tralie met reg trots kan wees.
Foto’s verskaf
Lees meer oor Sentraal:
https://schoolsthatrock.co.za/category/other-provinces/freestate/freestate-schools/