Jordania Graad R het beperkte plek beskikbaar. Gee jou kind ‘n voorsprong!
Die Primêre Skool Jordania is ‘n skool met ‘n tradisieryke geskiedenis en is toekomsgerig om aan sy leerders net die beste opvoeding en geleenthede moontlik te verskaf. Die huidige skoolhoof is Dr André Smith.
Lees meer oor Jordania:
https://schoolsthatrock.co.za/category/other-provinces/freestate/freestate-schools/
https://www.jordaniaprimer.co.za/
Geskiedenis: Die Primêre Skool Jordania het op 23 Junie 1958 sy deure geopen met 72 leerders en 3 onderwyseresse. Me. J.C. du Preez was aan die stuur van sake. Die oorspronklike geboue het uit drie klaskamers, ‘n saaltjie, ‘n kantoor en ‘n klein stoorkamertjie bestaan.
Aanvanklik het die skool onderrig gebied tot Standerd 2 (Graad 4). Die skooltjie het vinnig gegroei totdat dit in 1966 ‘n volwaardige Primêre Skool geword het met die eerste Standerd 5 (Graad 7) klas. Op 15 Mei 1964 ontvang die skool sy kleurbaadjie. Dit is vir die eerste keer deur ‘n Sub A (Graad 1) leerder, Louise Smit, gedra. Die skoollied is deur Mnr. A.H. Wasserman gekomponeer en getoonset. Dit is die eerste keer deur leerders op 14 April 1966 gesing. Gedurende 2013 word ‘n nuwe, effekleur skoolbaadjie vir die leerders in gebruik geneem.
Die nuwe skoolgebou is op 7 September 1974 ingewy. Tans beskik die skool oor die mees moderne geboue en ‘n pragtige, goed ontwikkelde terrein. Die Primêre Skool Jordania het deur die jare gegroei tot die toonaangewende skool in die Oos-Vrystaat. Dit word as een van die bestes in die provinsie gereken. Daar is tans sowat 870 leerders in die skool vanaf Graad R tot 7. Die skool beskik ook oor ‘n baie bekwame en uitgebreide personeelkorps wat die leerders in hulle opvoeding begelei.
Gedurende 2018 het Jordania sy 60-jarige bestaansjaar, met die jaartema “Op die voetspoor van voortreflikheid” gevier.