‘n Klomp Nellies het Vrydag, 28 Mei, die koue trotseer en kaalvoet skool toe gekom.
Ander het op hul beurt hul beste voetjies in kleurvolle kouse voorgesit. Tradisioneel is kaalvoetdag die dag waarop NHS se leerders hulle meelewing met arm gemeenskappe wys deur sonder skoene skool toe te kom en dan ook soveel as moontlik skoene saam te bring wat geskenk word aan gemeenskappe wat ‘n behoefte het aan skoeisel.
Altesaam twee bakkievragte skoene is vanjaar geskenk. VLR-lede het die groot vrag skoene aan Cyril Clarke Secondary School oorhanding wat weer op hulle beurt die skoene aan behoeftiges in die Mataffin-gemeenskap gaan uitdeel.
Baie dankie aan elke leerder, ouer en personeellid wat skoene geskenk het. Met sulke Nellies kan ‘n gemeenskap met of sonder skoene ‘n ver pad saam stap.