Foto: 480 kg meisies
Hoërskool Strand het drie spanne gehad wat op 23-25 April aan die 2021 SA Junior Toutrekkampioenskappe te Hoër Landbouskool Oakdale in Riversdal deelgeneem het.
Vanweë die huidige pandemie is die nasionale kompetisie afgeskaal tot slegs die drie internasionale gewigsklasse (480 kg meisies, 520 kg gemeng en 560 kg seuns), met die wenners van die onderskeie goue medaljes wat Suid-Afrika hopelik later vanjaar op internasionale vlak gaan verteenwoordig!
Wat hierdie nasionale kompetisie uniek gemaak het, is dat dit onder uiters streng COVID-19-riglyne plaasgevind het, met ‘n maksimum van 250 mense wat teenwoordig mag gewees het. Dit het beteken dat net die sterkste spanne van regoor die land kon deelneem. Met die nodige inskadering van atlete en beamptes, gereelde spuit van toue en slegs deelnemers aan die betrokke gewigsafdelings wat naby en op die veld toegelaat is, het Helderberg se Arende deeglik rekenskap van hulself gegee. Die 480 kg dogters was uiters ongelukkig om nie ‘n medalje te wen nie en het uiteindelik vyfde geëindig. Net so het sowel die 520 kg gemengde span (vier seuns en vier dogters), asook die 560 kg seuns algehele sewende plekke behaal.
‘n Verdere pluimpie is dat Hoërskool Strand se administrasie saam met ‘n ander klub as die beste van die toernooi uitgesonder is. Boonop is die 480 kg meisies se uitmergelende wentrekke teen Hoërskool Swellendam as die beste van die hele kampioenskappe aangewys!
Die 2021 SA’s het weereens bewys hoe uiters moeilik dit is om ‘n medalje op hierdie vlak te wen. Groot geesdrif heers egter onder die hele Arend-oefengroep om deur die jaar hard te werk ten einde weer te presteer tydens die 2022 SA Kampioenskappe wat in Malmesbury gaan plaasvind. Dit is die doelwit van Hoërskool Strand se toutrekatlete om binne die volgende vier jaar ‘n nasionale span op te lewer – ‘n droom waarvoor hard gewerk word!