Na ’n lang gewag, met skoolkalenders wat verander en baie onsekerhede in die onderwys, het die Graad 8-“kuikens” van Hoërskool Strand uiteindelik op Vrydag, 12 Februarie, kuikensnawels en al met hul oriënteringsweek begin.
Hierdie jaar het dinge egter so bietjie anders gewerk en Covid-19-protokol was die woord van die week. Onder leiding van die matriekraad (Arenderaad), is daar gesorg dat kuikens te alle tye sosiale distansiëring handhaaf, maar steeds ’n “groepsgevoel” ervaar.
Die rol van die Arenderaad tydens die oriënteringsweek is om as mentors vir Graad 8-kuikens op te tree; om hulle te beskerm en te lei, maar ook om ons skool se vyf waardes – Respek, Verantwoordbaarheid, Diensbaarheid, Integriteit en Hardwerkendheid – aan hulle te leer.
Tydens die week was verskeie aktiwiteite in die program ingebou. Hierdie aktiwiteite het ingesluit ’n toer van die skool, mentorsessies, ’n skoolgeskiedenis-les asook repetisies vir die jaarlikse kuikenkonsert.
Die kuikenkonsert, kon weens Covid-19 nie hierdie jaar fisies aangebied word nie. Dit het egter die geleentheid geskep om kreatief te raak en dinge vanjaar anders te benader. ’n Produksiemaatskappy is genader om die kuikenkonsert op te neem. Hierdie konsert sal in Maart virtueel aangebied word. Hoërskool Strand-ouers en enige belangstellendes moet die skool se kommunikasiekanale dophou vir meer inligting wat binnekort sal volg!















