Schools That Rock vra ‘n paar vrae gevra aan Derik Nortjé, Onderhoofseun van Hoërskool Strand.
Vraag: Waarna sien jy die meeste uit wanneer die 2021 skooljaar begin? As jy matriek is, is daar nog iets om voor te werk? Ja! Beslis. Nooit weer sal ons die skool met sy uitdagings, roetine en dissipline beleef nie. In plaas daarvan om te wag dat die jaar uitdoof soos ‘n uitgebrande kers, wil ek eerder die jaar sien as ‘n vuurwerk en die lont aansteek! Ek wil graag ‘n voorbeeld wees vir my arend-vriende wat agterbly en daag myself uit om vir oulaas voluit betrokke en teenwoordig te wees. Ek wil nie net deelneem nie, maar werk om te presteer op akademiese-, sport-, kulturele- en leierskapsvlakke. Ek sien uit om hierdie jaar my beste jaar te maak! (It’s time to go out with a bang!)
Vraag: Is daar enige aanpassings/ veranderinge wat jy graag wil sien gebeur by Hoërskool Strand? Hoërskool Strand skep elke geleentheid vir sy leerders om hulle self te kan toerus en hulle vlerke te kan sprei vir die toekoms. Ek sal graag wil sien dat elke Arend hierdie geleenthede vir hom/haarself sal aangryp en voluit daarop sal bou.
Vraag: Indien jy iemand moet oorreed om jou skool hul keuse te maak, wat sal dit wees? Daar word gewoonlik gesê dat die naaste skool die beste is, maar in die geval van Hoërskool Strand is die beste skool toevallig die naaste. Hoërskool Strand bied jou nie net alle geleenthede nie, maar tree ook pro-aktief op ten opsigte van nuwe idees en geleenthede. Bo en behalwe die verskeidenheid sport-, kultuur- en akademiese portefeuljes het ons al aanlyn e-sport en …. speed cubing aangepak. Daar is nie ‘n beter onderwyser as ‘n Hoërskool Strand onderwyser nie. Dis asof hulle aangedryf is om jou te sien slaag en te presteer. Jy is vir hulle belangrik. Hulle luister, gee raad en deel grappies. Hulle is mense-mense! Ons skoolhoof is ons grootste voorbeeld! Hy word oral gesien. Altyd netjies geklee! Met sy das, baadjie en wyerandhoed, kan hy langs elke sportveld bespeur word (en nie net by A-spanne se wedstyde nie). Hy sit in die gehoor van elke skoolproduksie en is persoonlik betrokke by die akademiese-, geestelike- en emosionele vordering van elkeen van sy leerders. En as die feit dat ons skoolhoof amper elke leerder in die skool se naam ken, jou nie beïndruk nie, sal niks jou beïndruk nie.
Vraag: Wie is jou rolmodel by jou skool? Daardie titel gaan beslis aan ons skool se eie rockster, leier en mentorfiguur: Ons skoolhoof, Mnr. Danie Malan! Alle mense is vir hom belangrik. Hy leer elke nuwe leerder se naam. Hy is betrokke en teenwoordig. Hy is persoonlik betrokke by die akademiese-, geestelike- en emosionele vordering van elkeen van sy leerders. Sy woorde is nie net woorde nie, maar word in sy aksies weerspieël. Hy lei nie van agter of van die stoep af nie, maar deur sy eie aktiewe voorbeeld. Hy is werklik ‘n rots en ligstraal vir ons skool en dien as ‘n rolmodel vir baie van ons leerders en personeel.
Vraag: Watter sportsoort is jou gunsteling? Praat. Ek hou baie daarvan om te praat. Maar as ek moet kies, sal dit beslis hokkie wees. Ek is ‘n goalkeeper in murg en been.
Vraag: Wat is jou gunsteling gereg? Definitief sushi en pasta. Ek is veral opgewonde oor ‘n sushi buffet. My ouers beweer hulle verhoog die prys van die buffet na elke geleentehid wat ek daar was.
Vraag: Watter loopbaan wil jy volg na skool? Vir my is die keuse van ‘n toekomstige loopbaan soos ‘n kind wat in ‘n lekkergoedwinkel staan. Ek wil iets van alles hê! Aanvanklik het ek besluit op Bio-mediese Ingenieurswese … of Forensiese Analis. Maar na baie heroorweging, en omdat ek ook baie van biologie hou, neig ek nou sterk na ‘n Mikrobiologiese rigiting.
Vraag: Na watter universiteit wil jy volgende jaar gaan? Die Universiteit van Stellenbosch.
Vraag: ‘n Boodskap aan jou mede-skoliere vir 2021: Wees trots! Wees die beste JY wat jy kan wees. Die wêreld het genoeg na-apers. Moenie jou eie waardes, oortuigings, morele standaarde en idees prysgee nie. Wees positief, betrokke en onthou ‘n leier “takes a little more than his share of the blame, a little less than his share of the credit”. Ek het in graad agt ‘n ‘lewens-motto’ aangeneem en ek leef vandag nog en beslis vir die toekoms ook daarby. Dit lees: “Do what is right, not what is easy”. Dalk kan dit vir jou ook iets beteken.
Become a Sponsor








