Stulting se rugbyspanne is reg vir die Sportdag en sien uit na die groot dag!
Almal weet dat Laerskool Stulting gewoonlik groot gaan met hul jaarlikse Sportdag! Die een is skaars verby en dan word daar al klaar weer uitgesien na die volgende een. Dit is net soos ‘n famlie wat jaarliks reünie hou. En wat is dan nou lekkerder as om jarelange vriendskappe tussen skole met sport te vier!
So is die naweek waarna almal al vir so lank uitsien dan nou ook uiteindelik op die voorstoep! Saam met Stulting se jaarlikse Sportdag, komende Vrydag en Saterdag (23 en 24 Augustus), word ook die 80ste bestaansjaar van die skool gevier. Altesaam 32 skole neem deel aan dié spoggeleentheid. Dit sal dan ook die 34ste Sportdag van Laerskool Stulting wees.
Die Sportdag skop Vrydag teen 11:30 by Stulting met tennis en skaak af. Saterdag sal die netbal- en rugbyspanne van die onderskeie skole mekaar die stryd by Hoërskool Nico Malan se sportgronde aansê. ‘n Ongelooflike getal van ongeveer 1900 spelers gaan tydens hierdie geleentheid deelneem! Wat die netbal ook uniek maak, is die feit dat skeidsregters ook hulle Provinsiale Gradering tydens die dag kan doen. Stulting is ook trots op hul verbintenis met Living Ball, wat vir die wedstrydballe van die dag sorg.
Saterdag sal die prysuitdeling teen ongeveer 14:45 plaasvind waartydens spelers en spanne van die dag aangekondig sal word. Stulting is geweldig dankbaar vir almal wat saamstaan om van hierdie dag ‘n sukses te kan maak. LH van Eeden Juweliers help met medaljes en trofeetjies en Sports & Boat Boutique borg die spanne van die dag se netbal- en rugbyballe, terwyl Smhart sekuriteit soos altyd vir almal se veiligheid gaan sorg. Die skool is ook net so dankbaar teenoor al die ouers en vriende van Laerskool Stulting wat op verskeie gebiede hulp verleen voor of op die dag.
Stulting spog ook met heerlike vars tuisgebak en vele meer by die Plaasmark en Teetuin. Dit beloof om ‘n pretvolle dag met puik sport en heerlike kos te wees. Moenie hierdie spoggeleentheid misloop nie. Kom kyk gerus hoe sê die spanne mekaar die stryd aan!

Become a Sponsor










