Op Saterdag, 13 Julie, het vyf dogters-hokkiespanne van Hoërskool Ermelo aan die Mpumalanga-uitspele deelgeneem. Die Errie-dogters het hul goed van hul taak gekwyt, ten spyte van ‘n drie weke lange vakansie wat die ritme maklik kon breek. Die verskillende ouderdomsgroepe het op verskeie plekke gespeel en die uitslae is as volg:
Die o/14A-span speel hul wedstryde te Curro Secunda. Hul eerste wedstryd teen HTS Witbank was ‘n harde wedstryd en die jong Errie-span wen 3 – 2. In die tweede wedstryd kom hulle te staan teen Hoërskool Generaal Hertzog en wen oortuigend met 7 – 1.
Die o/15A-span wen albei hul wedstryde gemaklik met onderskeidelik 9 – 0 en 10 – 0 teen Secunda en Bergvlam.
Die o/16A-span wen altwee hul wedstryde. Uitstekende doele is deur hierdie span aangeteken. Teen beide Piet Retief en Bergvlam wen die Erries 4 – 0.
Hoërskool Ermelo se tweedespan het ‘n goeie seisoen gehad, maar het in die Semifinaal in ‘n naelbyt wedstryd 2 – 1 verloor teen Hoërskool Middelburg.
Die Hoërskool Ermelo Calstar eerstespan dogtershokkie se wedstryde het te Hoërskool Middelburg plaasgevind. Die Erries het uitgeblink teen HTS Middelburg en wen met 6 – 0. Teen Hoogenhout domineer EHS die wedstryd. Hoogenhout verdedig goed, maar die Erries slaag daarin om 2 – 0 te wen.
Baie geluk aan al die hokkiespanne met uitstekende tellings en sterkte met die volgende wedstryde wat voorlê.
Foto bo: Andisiwe Vilakazi in aksie












