Skole-netbal. Dasse wys karakter teen Punt op die netbalbaan.
Hoërskool Langenhoven, Riversdal, se netbalspanne het op Dinsdag 14 April na Mosselbaai gereis om kragte te meet teen Hoërskool Punt. Met 8 bussies en sowat 124 leerders wat die Dasse verteenwoordig het, was dit ’n dag vol opwinding en sportiewe trots.
Ten spyte daarvan dat Hoërskool Punt byna drie keer soveel dogters in hul skool het, het die Dasse met durf en vasberadenheid meegeding. Uit die 18 wedstryde is 8 gewen, terwyl een gelykop geëindig het – ’n bewys van Langenhoven se veggees en spanwerk.
Hoogtepunte van die wedstryde
- o/14-spanne: Die o/14B-span het met 12–10 gewen, en die o/14A-span het ’n indrukwekkende 22–11 oorwinning behaal.
- o/15-spanne: Die o/15D-span het met 9–8 geseëvier, terwyl die o/15C-span 11–11 gelykop gespeel het. Die o/15A- en o/15B-spanne het dapper geveg, maar naelskraap verloor.
- o/16-spanne: Die o/16C-span het hul staal gewys met ’n 12–6 oorwinning.
- o/18-spanne: Die o/18E-span (25–4), o/18D-span (23–9) en o/18C-span (19–5) het almal sterk vertonings gelewer. Die tweede span het ongelukkig 18–20 teen Punt se o/17A-span verloor.
- Eerste span: Die dag se hoogtepunt was die eerste span se wedstryd wat tot die laaste oomblikke spannend gebly het. Met ’n naelskraap 26–25 oorwinning het die Dasse hul karakter en vasberadenheid bevestig.
Trots en prestasie
Hoërskool Langenhoven is trots op elke speler se deursettingsvermoë, spanwerk en veggees. Hierdie wedstryde het weereens bewys dat die Dasse, ongeag die grootte van die opposisie, altyd met trots en vasberadenheid kompeteer.
Eden- en Sentraal-Karoo Netbalproewe
Nog ’n groot hoogtepunt vir Langenhoven se netbal was die Eden- en Sentraal-Karoo-proewe wat op 10 en 11 April op die skool se bane plaasgevind het. 39 dogters het deelgeneem, waarvan 24 spelers deurgedring het na die Weskaap-proewe wat op 22 en 23 Mei weer by Hoërskool Langenhoven aangebied sal word. Hierdie prestasie beklemtoon die hoë standaard van netbal by die skool en die ryk talent in die Dasse-geledere.
Lees meer skolenuus hier: https://schoolsthatrock.co.za/
Foto verskaf
Become a Sponsor









