Meisieskoshuis propvol Stories – Hoër Meisieskool Oranje se Le Rouxhuis meisieskoshuis van vandag is ‘n meisieskoshuis propvol stories. Wanneer jy die swaar houtdeur van Le Rouxhuis oopmaak, voel dit asof jy in ’n ander tyd instap. 1899 Argitektuur gee Le Rouxhuis ’n klassieke sjarme. Trappe kraak onder jou voete. Die hoë plafonne fluister van eeue gelede. Die mure dra die geheime van oorlog, onderwys en jong meisies se drome. Só het Le Rouxhuis deur die jare ’n plek van verhale geword, waar geskiedenis en legende hande vat.
Le Rouxhuis is nie net baksteen en kalk nie – dit is ’n lewende monument. Elke hoek en gang dra die fluisteringe van die meisies wat hier hul eerste treë in die grootmenswêreld gegee het. Van die vroeë dae tot vandag is dit steeds ’n plek van samehorigheid. Le Rouxhuis het verseker haar unieke karakter behou.
Van hospitaal tot koshuis
Tydens die Anglo-Boereoorlog het die Engelse magte Le Rouxhuis as ’n hospitaal gebruik. Voor die oorlog het St. Andrew’s Skool die gebou bekom en beplan om van St. Georges straat daarheen te verhuis. Tydens die oorlog is die planne egter gestuit. Ná die oorlog het die gebou leeg gestaan totdat St. Andrew’s eers in 1916 weer heropen het.
Die Anglikaanse kerk het St Andrews-seunskool, na die Anglo Boereoorlog vir £3 500 aan Oranje verkoop. Die koop van die skool was onder aanvoering van oud-President MT Steyn van die Vrystaat. Met behulp van skenkings deur ‘n paar Bloemfonteinse weldoeners en die Europese regering, is fondse daarvoor bekom.
So word dit in 1907 die eerste skoolgebou én koshuis van Hoër Meisieskool Oranje.
’n Gebou met karakter
In die vroeë jare is klasse op die grondvloer aangebied, terwyl die kamers bo vir leerlinge en selfs onderwysers ingerig is.
Die Stigting van die skool vind plaas op 11 April 1907. Die eerste klasse by Oranje begin met 35 leerlinge en 7 onderwyseresse. Elizabeth le Roux is as die eerste skoolhoof aangestel. Die koshuis is vernoem na haar. Elizabeth le Roux (1907–1910), was ‘n pionier wat die fondament van die skool gelê het. Haar nalatenskap word elke dag geëer deur die jong meisies wat hier woon. Elizabeth le Roux se dogter was niemand minder nie as die bekroonde Afrikaanse digter Elisabeth Eybers. Sy het later self ’n groot rol in die Afrikaanse letterkunde gespeel.
Op 2 Augustus 1907 vind die Formele opening plaas. Oud President Steyn open, as voorsitter van die kuratorium, die skool. In sy rede beklemtoon hy dat die opvoeding van die Afrikaanse meisie die volk sou versterk. “Gee die vrou godsdiens, eerbied en geloof in die goeie, die edele en die heilige, en sy staan so vas soos ’n rots.”
In 1974 is Le Rouxhuis tot nasionale gedenkwaardigheid verklaar. Die betekenis daarvan is dat dit nie net vir Oranje belangrik is nie, maar vir die hele land se kultuurerfenis.
Vandag se Le Rouxhuis
Le Rouxhuis se gees is sterk. Elke jaar word nuwe generasies ingelei in die rituele en tradisies wat die koshuis uniek maak. Vir die huidige Oranje-meisies is Le Rouxhuis steeds ’n tuiste weg van die huis. Dit is ’n plek waar tradisie en moderniteit ontmoet. Wi-Fi en slimfone leef gemaklik saam met die ou gebou se nostalgiese karakter. Die meisies van Le Rouxhuis het deur die jare ’n sterk gemeenskapsgees gebou. Van middernaggeselsies tot die bekende “huisgees”-liedjies, is dit ’n plek waar vriendskappe vir ’n leeftyd gesmee word.
Dit is ’n tuiste waar jong meisies leer om sterk te wees. Dit is waar elke generasie in die Meisieskoshuis se propvol stories bygevoeg word tot die ryke erfenis. Of dit nou die fluisteringe van ’n oorlogshospitaal is, die pioniersgees van Elizabeth le Roux, of die lag van vandag se koshuisdogters – Le Rouxhuis bly ’n plek waar die verlede en die hede saam ’n warm, trotse toekoms bou.
Le Rouxhuis is dus ’n verhaal van volharding, kultuur en identiteit – van ’n hospitaal tydens oorlog tot ’n trotse koshuis wat vandag nog jong vroue vorm. Dít is wie Lerouxhuis is!



Meer skolenuus: https://schoolsthatrock.co.za/
Foto’s voorsien
Become a Sponsor








