Newton die Koshuiskat – Hoër Meisieskool Oranje se koshuiskat trap diep spore in koshuisharte.
“Hierdie artikel is oorspronklik geskryf deur Giselle Coetzee van Hoër Meisieskool Oranje.”
Joostehuis se Koshuiskat
Wanneer die kat weg is, is die muis baas. Juis om hierdie rede laat Newton, die Koshuiskat niks onder sy neus uitglip nie. Die wit-en-swart strepieskat leef ’n lewe van luuksheid en liefde en is daarom ’n belangrike inwoner van Joostehuis.
Sedert 2023 bewandel Newton, die koshuiskat die koshuisgange op soek na ’n stukkie biltong, geluk en aandag. Die meisies gee hom ’n oorvloed liefde en vryfies en so nou en dan sien hulle sy kattekwaad oor.
Namate hy as neus-in-die-lug klein katjie deur sy sussie Maverick verwerp is, het hy elders sussie-liefde gaan soek en dit in oorvloed by Oranjeniete gekry.
Juf. Biggs, koshuismoeder, het onlangs ‘n Instagramblad begin waarop sy Newton, die koshuiskat se daaglikse aktiwiteite plaas, of dit nou Sondagmiddae se huiswerk of ’n warm drukkie van ’n Grey-boetie is. Hier hou sy kontak met oud-Oranje-dogters wat ’n groot plekkie in Newton se hart volgemaak het.
Newton se koshuislewe
Soos enige kat leef Newton ’n taamlik normale lewe, maar kry tog elke aand sy eie vars glas water voor sy bed. Soggens om 05:20 flikflooi hy vir ’n pakkie sagte kos om aan te knibbel voordat hy gaan sosialiseer.
Juf. Klink het gevra dat Newton net ’n bietjie langer binnenshuis sal bly sodat die dogters se aandag in die klaskamers gevestig sal bly.
Smiddae kuier hy egter gereeld rond en woon tot die kategeseklasse by. Weens Newton se kaskenades in die koshuiskamers wil hy net ‘n paar dingetjies uitklaar: “Nee, ek steel nie mense se biltong nie (net as dit BAIE lekker lyk). Ek is baie lief vir my koshuissussies, al steur hulle soms laat in die aande my slaap. Ek is nie so vol fiemies nie en is baie lief om te sosialiseer.”
Alhoewel Newton net klein treetjies trap, trap hy diep spore in elke koshuishart.
Een purrrrr kan ‘n gesellige gevoel van samehorigheid en behoort skep. Joostehuis-inwoners is dankbaar vir daardie nat neus en vurige houding.
Net ’n laaste woord van Newton: “Miaau!”.
Meer skolenuus: https://schoolsthatrock.co.za/
Foto voorsien
Become a Sponsor








