Geagte ouers, leerders en personeel
Graad 12: Dit is met groot dankbaarheid dat ons graad 12’s die 6e-week, van hulle teruggekeer het op 1 Junie 2020, kon voltooi het. Die onderwysers en leerders is, gedurende die oggende en middae, volstoom besig met werk en onderrig. Die ywer en entoesiasme tussen hulle is sigbaar, en is dit ’n weerspieëling van die akademiese
standaard by Sentraal. Die algemene gevoel is dat ons stadig maar seker besig is om die lading en druk in graad 12 te wen, en vertrou ons dat ons tot en met die Rekordeksamen so sal kan volhou. Sonder enige onderbrekings in die toekoms is ons koppe deur.
Die Rekordeksamen word deur die onderwysdepartement bepaal en sal van 31 Augustus 2020 tot 23 September 2020 deur die leerders afgelê word. Mnr. Jooste, in samewerking met die graad 12-personeel, is besig om die Rekordeksamen se rooster te finaliseer. Sodra die rooster gereed is, sal dit beskikbaar gestel word. Hierdie eksamen sal deurslaggewend wees aangesien die vraestelle die hele kurrikulum sal dek. Dit is belangrik om daarop te let dat die graad 12’s se kurrikulum onveranderd gebly het. Geen aanpassings is gemaak nie.
Graag wil ek ons graad 12’s komplimenteer met hul getroue klasbywoning. Hul klasbywoning, vanaf 1 Junie 2020, is ongeveer 99% en het ons groot waardering daarvoor.
Neem kennis van belangrike assesserings wat sal plaasvind in Engels EAT Vr.2 op Donderdag 16 Julie 2020 en Afrikaans HT VR.3 op Vrydag 17 Julie 2020. Hierdie is eksamens wat deel uitmaak van die rekordeksamen se verslag.
Graad 11:
Ons graad 11’s het op Maandag 1 Julie ingeval en vinnig aangepas by die “nuwe” normaal. Die akademiese druk is effens verlig omdat sekere werk vir 2020 uit die kurrikulum gehaal is. Alhoewel dit ons meer tyd gee om die huidige werk af te handel, het personeel ook gevoel om sekere aspekte wat weggeval het, tog met ons graad 11’s te hanteer. Hierdie is werk wat in graad 12 weer van kardinale belang sal wees. Dit gee my gemoedsrus omdat ons nie die belangrikheid van hul graad 12-jaar uit die oog moet verloor nie. Die personeel, tans betrokke by graad 11, het ook insae in die kurrikulum van graad 12 en so maak ons dit makliker vir 2021.
Ek is wel bekommerd oor talle leerders wat nie getrou skool bywoon nie. Tans is ons graad 11’s se skoolbywoning ongeveer 95%. Dit is nou leerders wat afwesig is sonder verskoning. Ons doen ’n beroep op ons graad 11-leerders en hul ouers om toe te sien dat hul kinders pligsgetrou skool sal bywoon. Dit is tog die regte ding om te doen. Dankie vir u as ouer dat wanneer ek u skakel u altyd bereid is om saam met ons hande te vat en toe te sien dat ons kinders by die skool is.
Graad 10:
Ons graad 10’s werk nog voltyds van die inperking begin het (23/3/2020) op Teams, D6 of WhatsApp. Hul koördineerder, mej. Bianca von Landsberg, se terugvoering oor hulle as graad, is baie positief. Ons dra ook kennis van talle leerders wat onder baie moeilike omstandighede wel betrokke is by Teams en het ons groot waardering daarvoor. Daar is enkele leerders wat nie op Teams is nie, maar wel voltyds inskakel op die WhatsApp- en
D6-netwerke. Dankie ook dat u hierdie moeilike omstandighede met ons deel en dat ons u ook kan bystaan. Ons sien uit om julle Maandag 20 Julie 2020 weer by die skool te verwelkom.
Graad 9 en 8:
In my onlangse Teams-klas, met my SW graad 8’s, het ek besef dat ons junior klasse baie graag wil inskakel by die skool en is die inperking ’n wesenlike probleem vir hulle. Die huidige inperking en onsekerhede is vir ons juniors baie moeilik en sukkel hulle om die sin in alles te sien. Daarom moet ons hulle koester in ons gedagtes en gebede. Ons sal deurgaans met hulle moet kommunikeer met raad en daad om seker te maak dat hulle rustig en kalm is oor al die onsekerhede. Tans word hulle bywoning van skool weerhou as gevolg van die erns oor die graad 12’s se akademiese jaar. Wanneer die getalle by enige skool vermeerder maak dit die risiko van COVID-19 net groter en ingewikkelder. Baie sterkte vir julle en dankie dat julle so getrou met die personeel skakel en hard werk. Ons sien julle dan Maandag 12 Augustus 2020 weer by die skool.
Weekbeplanning:
Die onderwysdepartement het onlangs vir ons aangepaste kurrikulums vir die res van die jaar se akademiese beplanning gestuur. Hierdie dokumentasie is werklik van hoogstaande gehalte en het dit baie onsekerhede vir ons uit die weg geruim rakende assesserings, toetse en die November/Desember eksamen. Al hierdie inligting sal ek met u deel sodra ons finaliteit daaroor het.
In al die grade gaan ons personeel poog om aan u ’n weekbeplanning vir die res van die jaar te voorsien. Die toetse en eksamen van graad 8 tot -11 sal vroegtydig met u gekommunikeer word en behoort dit ook in die nabye toekoms beskikbaar te wees.
Klagtes/probleme:
Indien u enige klagtes of probleme onder ons aandag wil bring, wil ek u aanmoedig om dit eers onder die betrokke vakonderwyser se aandag te bring. Ons personeel is daartoe verbind om u by te staan met al u klagtes en probleme. Indien die klagte of probleem die aandag van die vakhoof vereis, moet sy kennis en oordeel ook in ag geneem word. Hierna kan u my enige tyd kontak. U is natuurlik ook baie welkom om my direk te skakel of te e-pos.
Net weer:
’n Opregte woord van dank vir al u ondersteuning, gebede en positiwiteit rakende al ons akademiese beplanning. Ons het groot waardering vir u wat met raad en daad ons probleme en haakplekke uitwys. Wees verseker dat ons alle gebeurlikheidsplanne in plek het, en kom leerders en personeel se veiligheid en welstand altyd eerste by Sentraal.
Ek sluit graag af met twee skrywes van ons hoofdogter en hoofseun, wat ek beskou as wonderlike getuienisse in ’n gebroke en onseker wêreld.
Tralie-groete
____________________
Mnr. Du Toit Neethling
Akademiese hoof









