1Ste X1 Krieket Kapteins. Schools That Rock gesels verder in hul reeks oor skole se 1ste X1 Krieket Kapteins. Verskeie skole in Suid-Afrika se 1ste span Krieket-kapteins neem deel aan hierdie gewilde reeks. Ons veertiende bal word vandag geboul na Duan Roberts, kaptein van Hoër Landbouskool Oakdale in Riversdal, se 1ste krieket span.
“Ek het begin krieket speel op die ouderdom van 7 jaar. Dit was mini-krieket. Ek het van kleins af na my pa se krieket-wedstryde gaan kyk. Ek dink dis daar waar my liefde vir krieket begin het. Toe ek mini krieket begin speel het, kan ek onthou hoe ek dit geniet het om die bal te slaan. Ek wou net kolf!
Die eerste keer wat ek verkies as krieket kaptein was in 2017 toe ek vir SWD 0/13 gespeel het. Ek beskou die grootste taak van ‘n krieketkaptein ”To lead by example”.
Ons eerste krieket span oefen drie keer per week.
Volgens my moet ‘n goeie krieketspeler bereid wees om hard te werk en doelgerig wees. Hy moet ook bereid wees om ekstra tyd in te sit om te oefen. Hy moet ook gefokus wees op dit wat hy moet doen en altyd 100% gee. ‘n Goeie krieketspeler moet ook geestelik sterk werk. My sleutel tot sukses op die krieketveld is om hard te werk en ek luister graag na my afrigters vir hulp en areas waar ek kan verbeter.
Inspirasie
Wat my inspireer elke keer wanneer ek op die veld stap vir ‘n wedstryd, is die manne rondom my wat saam met my op die veld moet gaan. Verder ook om elke keer beter te presteer as wat ek die vorige keer gespeel het. Ek wil net verbeter.
My grootste krieketheld is Sachin Tendulkar. Ek kyk tot vandag toe nog videos oor hoe hy gekolf het. Ek verkies om te kolf teenoor om te boul.
My lekkerste wedstryd was verseker ons interskole wedstryd vanjaar teen Boland Landbouskool van die Paarl. Dit was die eerste keer, na tien jaar, wat Oakdale se eerste span Boland Landbou kon wen, en dit was boonop op die plaas! Die manier hoe ons gewen het, was die passie en trots waarmee die manne gespeel het. Dit was onvergeetlik!
My kolfbeurt wat my altyd sal bybly? Ek het ‘n paar kolfbeurte wat my altyd bybly, maar as ek moet kies, sal dit die interskole wedstryd wees waar ek 62 lopies behaal het. Wat dit nog meer kosbaar maak, is omdat ons onder druk was toe my kolfbeurt aangebreek het. My mees suksesvolle boulbert was tydens die ‘national’ week toe ek 4/10 in 5 beurte behaal het. Dit is ook die meeste paaltjies wat ek in ‘n wedstryd geneem het.
Druk op die veld
Ek hanteer druk op die veld deur te probeer om myself rustig en kalm te hou en net te fokus op my taak wat ek moet doen en die res te laat gebeur soos dit moet. My raad aan beginners is om hard te werk en doelgerig te wees. Die belangrikste is om uit te gaan en om elke oomblik te geniet.
Wanneer ek ‘n moeilike wedstryd agter die rug het, vra ek altyd hulp en raad by ons afrigters asook by senior spelers in die span.
Het ons ‘n ‘nar’ in ons span? Ons het sommer twee, Corné Kennedy en Erick Steyn. Die persoon in ons span wat my dikwels verras tydens wedstryde, is Gerhard Ehlert. Sy boulwerk en veldwerk het só baie verbeter gedurende die seisoen.
Die bouler vir wie ek die meeste gevrees het, is Kevin de Kock. Hy was vinnig. Ek het nooit die geleentheid gehad om saam met hom te speel nie, maar het met hom een keer in die nette geoefen.
Ons het wel ‘n “pre-match” ritueel. Voordat ons op die veld gaan, bid ons eers en die kaptein gee altyd die eerste tree op die veld.
Ek probeer om soveel as moontlike krieket wedstryde op televisie te kyk wanneer ek tyd het. Ek kyk na spelers wat omtrent dieselde tipe “game” speel as wat ek doen. Sodoende probeer ek myself verbeter.
Ek het maar min vrye tyd, maar met die bietjie vrye tyd wat ek kry, spandeer ek tyd saam met my familie en vriende.
As ek myself in een woord kan beskryf, sal ek sê dit is kalm.“
Meer skolenuus: https://schoolsthatrock.co.za
Foto verskaf